Sirkel: Tygerberg

Tak: Brackenfell

Beriggewer: Anton Döckel

Datum: 18 Februarie 2016

 

p1

 

Om Philadelphia te plaas: in die Swartland, suid van Malmesbury, noord van Durbanville  en oos van Melkbosstrand.

 

Van Brackenfell af is dit ’n snars meer as 30 km op goeie paaie wat rustig op en af dein en swenk en swaai oor blonde heuwels soos ’n Swartlandse graanlandskap maar lyk as die oes af is. Daar ver lê die Bolandse berge soos ’n kraalmuur en selfs Tafelberg sit doerrr vêr soos ’n klippie op die horison. Die graanlande moet ’n kleurespel wees voor oestyd.

 

p2

 

Pragtige dag. Ons stop almal in ’n netjiese ry onder die koelte van die Bloekombome. Verraai die parkeergewoontes van die VLV-dames iets? Die eerste parkeerster het naby aan die bome gestop en daarna het elke motor langsaan met verdrag ’n bietjie verder agtertoe gestop, sodat dit ’n skuins ry vorm. Hierdie dames het respek vir mekaar, wil ek moedswillig aflei. Nie een wil te vooraan wees nie? Aan die ander kant, lyk die vliegformasie van vegvliegtuie, genaamd echelon, ook so.

 

Agter ons lê die ou geboutjie van die kerkskooltjie, regs die spierwit kerk en dan die paar strate van die dorpie links. Omtrent soveel as in ’n # (hutsteken).  Ons het ’n afspraak met ds. Philip Davids om 11 uur by die kerk. Dit bespreek ons na die “goeiemôres” en “aangename kennis”  toe ek by afklim uitvind dat ek die enigste man is wat op die uitstappie gekom het.

 

p3

 

Ons het net genoeg tyd om gou die winkel  met die minerale en gesteentes te bekyk en party dames loer in by die Blikhuisie, laer af teen die afdraandse hoofstraat. Daar was behalwe allerhande outydse snuisterye ook Suid-Afrikaanse posseëls teen die mure en op doeke geskilder. Jy kon selfs van die ou seëls koop.

 

Het ek vertel dat die meeste huisies lyk of die tyd vir hulle stilgestaan het. Victoriaanse broekie“lace” en verandas en huisies wat nog selfs ouer is. Tog sien ons dat die ontwikkelaars nie hulle gulsige pootjies van die plekkie kon afhou nie. Net so op die westekant  van Philadelphia is daar nou al uitbreiding 2 aan die grawe en riolering en strate insit. Almal wil ‘n stukkie hê van die dorpie wat die tyd maar droomverlore laat verbydraai het. Binnekort sal dit dan nie meer die Philadelphia vanouds wees nie.  Philadelphia beteken broederliefde, maar  of daar veel van sal oorbly as die nuwe inwoners agiteer vir ’n  supermark, sal niemand weet nie.

 

Om 11h00 gaan ontmoet ons toe die dominee, wat die kerk vir ons oopsluit en ons binnelaat en van Philadelphia se geskiedenis vertel.

 

Klein kerkie met mooi banke van oregon-dennehout en ‘n pragtige houtplafon. Ds. vertel dat die dorpie gestig is toe ’n boer grond geskenk het en dat die kerkgebou in 1863 gebou is. Die 68ste gemeente van die NG Kerk in Suid- Afrika. Eers was daar nie genoeg geld vir ’n toring nie; die sou later kom. Toe daar genoeg fondse versamel is om dit te doen, wou die gemeente nie meer nie.  “Ons is hom nou gewoond soos hy is”.

 

In die vroeë jare kon die gesinne hulle eie familiesitplekke in die kerk koop. Die gebruik is sedertdien gestaak, maar dis nog steeds asof daardie banke bespreek is.  Daar word taamlik baie troues in die kerk voltrek, omdat dit so ’n romantiese atmosfeer het.

 

Moeg gestap en gekyk gaan ons by die Pepper Tree restaurant onder die dikste peperboom in die Wes-Kaap sit vir middagete. Elke lid soek ’n gepaste sitplek in die gepaste skadu en gesels al die ander gaste skoon in die agtergrond in, want nou moet daar VERTEL word.

 

p4

 

Die kos was so lekker dat ons begin rondvra oor nagereg? Skamerig wys die meeste van ons dit van die hand, maar toe twee se soettande hulle verlei en die yskaskaaskoek met bessiesous en die warm appeltert met room so verloklik lyk, word amper almal oorreed om tog maar te swig en die  gesonde eetgewoontes na môre toe uit te stel.

 

Ek vertrou almal het die uitstappie geniet, ook die dames wat meer stil van geaardheid is. As die enigste verteenwoordiger van die ander geslag, wil ek verklaar dat dit ’n plesier is om uitstappies saam met Brackenfell se VLV mee te maak.

 

Waarheen gaan ons volgende keer?