Sirkel: Middelland
Tak: Alexandria
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Dina Erasmus
Datum: 18/2/2016
Na ons inligtingsvergadering gedurende Januarie is die lede nou op koers. Met hierdie vergadering het lede deelgeneem aan `n werksklas in die verwerking van eierhouers vir die Konferensie-inskrywing. Alexandria-tak is lus vir die uitdagings van 2016.
Lede besig met die papierpulpblomme uit eierbokse
Openbare Sake, onder leiding van Tersia, Heila, Louise, Hester en Hannalie bied `n insiggewende ledevergadering aan.
Riaan Scheepers, `n plaaslike boer en organiseerder van die Amos Aksie was ons gasspreker. Die doelstellings van Amos is opheffingswerk, asook evangelisasie onder agtergeblewe skoolkinders en jongmense van die plaaslike gemeenskap en landelike gebiede. Daar word gepoog, en met sukses, om jongmense voor te berei vir die samelewing na skoolopleiding.
Riaan Scheepers – Amos Aksie
Dit is belangrik dat geen kerkverband hieraan gekoppel word nie. Vrywillige swart en bruin mense uit verskillende kerke neem die leisels om met die jongmense te werk. Die jongmense is meestal verarm en afkomstig vanaf plase en swart woongebiede. Blootstelling aan normale sosiale geleenthede is nie in hul raamwerk nie.
`n Kamp word jaarliks op Boknesstrand in die Voortrekker Kampterrein gehou. Bywoners van die kamp kom van so ver as Patterson, Alexandria, Boesmansrivier, Kenton on Sea en omliggende plase. Die jongmense word bederf en sinvol vermaak. Bybels word ingesamel en uitgedeel. Fondse word verkry van vrywillige skenkers.
Die Konferensie-artikels naamlik, outydse soetkoekies, sjokolade fudge, suurlemoensmeer en blomme word goed ondersteun. Dis tog te lekker om na die huiswerktafel te kyk. Die lede is verseker baie besig met allerhande dinge by die huis.
Huiswerktafel
Leave A Comment