Sirkel: Paarl

Tak: Wellington

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Juanita Loubser

Datum: 18 Februarie 2016

 

Dit is met groot opgewondenheid dat ek hierdie maand kan noem dat ons ledetal by die maand groei.Wellington se VLV is die grootste tak in die Sirkel en alhoewel ons soms lede vaarwel roep, kom klop nuwes aan ons deur of wil hul net deel word van ons doen en late.

 

Februarie het so ‘n inspirerende boodskap aan ons gebring en soos gewoonlik het Renetha Jurgens gesorg vir ‘n sprankelende dag. Iné Reynierse was ons hoofspreker. Sy doen nie net kinderverhale nie, maar ook stemwerk vir RSG. Dié skrywer van die boek “LOW CARB IS LEKKER” is al deur soveel hartseer en trauma, dat sy net eendag besef het met ‘n man wat diabetes het, ‘n seun wat grens aan Outisme en syself wat depressie het, moet sy ‘n verskil probeer maak. So het sy navorsing gedoen en opgelees oor koolhidrate en suikers nog lank voor Tim Noakes met sy “banting”-praatjies begin het. Een feit wat soos ‘n paal bo water uitstaan is dat daar in die 1800’s 6kg suiker per persoon per jaar gebruik is en nou gebruik ons 90kg per persoon per jaar. Met haar boek probeer sy mense se lewe verbeter en ook hul lewenskwaliteit.

 

feb 16.1

Magda, Renetha en Inê

 

Louwina Brand het vir ons so mooi kom lei met haar boodskap van die skilderye wat sy skilder. Onder andere het sy gepraat van die droogte wat ons ondervind en dat dit weer groen sal word. So skets sy haar prente se betekenis van dankbaarheid vir ons.

 

Dit is nie aldag dat ‘n haarkapper haar salon los in die oggend nie en Magda van La Papilon deel met ons geheime vir gesonde en mooi hare wat gevoed moet word deur wat ons eet. Proteïene maak ons hare sterker. Omega3 is nodig vir die kopvel. Kry vit B uit volgraan, kaas en eiers. Drink water om hare vogtig te hou. Koolhidrate en suiker verhoed te veel haarverlies. As jy gekleurde hare met koeler water was, hou die kleur langer.

 

Dit was nou omtrent ‘n mondvol koolhidrate en vitamines, maar met die heerlike klapper en saadbroodjie  en wortelkoek, sonder enige koolhidrate, voel ons verfris en gesonder toe ons huiswaarts keer. Ek dink nogal in my agterkop ook dat almal vanaand hul haardos gaan opkikker.

 

feb 16.2

Die heerlike gebak wat Iné vir ons laat proe het uit haar kookboek

 

Ine Reynierse kan gekontak word by 084 251 5598 en woon in Wellington.

 

feb16.3

Beoordelaar hard aan die werk met al die skilderkuns Inskrywings