Sirkel: NOK

Tak: Jamestown

Studierigting: Kunste&Handvlyt en Landbou & Tuinbou

Aanbieder: Mariana van Pletzen en Lucia Lieberum

Beriggewer: Antoinette van Pletzen

Datum: 17 Februarie 2016

 

Die dag se program is deur Mariana van Pletzen en Cecile Nel (die Voëlgroep) aangebied. Eerstens het Cecile ‘n resep vir mikrogolfbeskuit gegee en voorbeelde gesirkuleer om aan te proe.

 

Daarna het sy die manipulering van Loof (soos Aspidistra en Vlas) vir rangskikkings verduidelik en almal het heerlik saamgevleg! Die rangskikking vir Konferensie 2016 is “Rangskik oorwegend met Loof”. Vetplante mag nie gebruik word nie, maar wel die pointsettiablom. Gebruik verskillende teksture, asook blink/dof. Gebruik die swaar waaierpalm se sykant. Die houer se kleur moet in die rangskikking herhaal word. Pluk die blare vroegtydig af om te verhoed dat dit verlep (ten minste die vorige aand), en hou dit onder water. Krismisrose moet in warm water gehou word. Cecile het ook na die vere as versiering op die tafels verwys, asook die oulike rangskikking met gevlegde Vlas in die vorm van ‘n voël.

 

Om blomme te droog moet Silica jel gebruik word. Die blom moet droog en nie verlep wees nie. Pluk dit ± 11h00 en druk draad deur. Gooi ‘n lagie silica oor, sodat die blom in die silica lê. Bêre vir 3 dae. Gebruik silica 3 keer, en bak dan in stoof vir 20 min by 200°C. Mikrogolf 3 min in ronde bak.

 

DSCN2011

Voëlrangskikking

 

Mariana het die storie agter die voëltjievormige koek vertel, wat sy vir teetyd gebring het. Daarna het sy vir elkeen gevra watter voël hulle graag sou wou wees en hoekom. Sy gee ‘n resep vir ‘n Voëlkos-ontbyt: meng 4½ k Oats, 2 k grondbone, 1 k sonneblomsaad, ¾ k sesame saad, ¾ k appelmoes, 1 t sout, 2 e olie, 2 e gemmer, 2 e kaneel, 25g kakaopoeier, ½ – ¾ k stroop, en  ½ k geelsuiker. Gooi alles bymekaar en bak 45 min teen 150°C.

 

Mariana het enkele voëlgesegdes gedeel, asook interessante voëlname soos die Klop-kloppie, Diederikkie, ens. Sy vertoon ook foto’s van voëls wat in ons streek voorkom. Lede kry ook kans om die voëlname in ‘n kriptogram te soek. Interessante voëlfeite is uitgedeel en behandel, soos dat ‘n voël se hart 400 keer per minuut klop wanneer in rus.

 

Sy deel papiere uit met aanwysings wat in Januarie 2016 se Tuis-tydskrif was oor hoe om ‘n voëltjie uit papier te vou.  Sy verwys ook na die Protea wat uit ‘n boek gevou is. ‘n Voëlvoerder: smeer ‘n leë toiletrol met Prit, rol dit in voëlsaad, en hang buite op. Stokkies kan ook deurgesteek word met stukkies appel daaraan.

 

DSCN1986

Almal vleg saam met uiterste konsentrasie! Pikkie Swart, Henda Erasmus & Ilse Labuschagne

 

DSCN2005

Eindresultate: Jessie Muller, L.Coetzee & Hilda v/d Walt

 

DSCN1979

Protea gevou met ‘n boek se bladsye

 

Dan neem sy lede op ‘n sterrereis en ons leer van Suiderkruis, Orion, Stier, e.a. se liggings en interessanthede. Daar is afgesluit met ‘n hoenderslaai as ete.