Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Beriggewer: Theresa Troskie,

Datum: 10 Februarie 2016

 

Murraysburg se eerste VLV-vergadering was soos altyd leersaam en vol pret en plesier.  Maretta Theron, sameroeper van Kunste en Handvlyt,  het die VLV-noot hoog ingesit!

 

As verwelkoming speel die Voorsitter die aangrypende snit “The invisible woman”.  Dit laat lede weer met nuwe oë na hulself en hul bedrywighede kyk.  God sien alles wat ons doen – ’n mens het nie ander se erkenning daarvoor nodig nie.

 

Susanna van der Merwe vertel van haar liefde vir fotografie en hoedat hierdie stokperdjie haar lewe op ’n Karooplaas verryk en vol maak.  As jy deur die lens van ’n kamera na die wêreld kyk, kyk jy skerper en is jy meer kreatief.  Uiteindelik moet jy egter besluit wat doen jy met al die mooi foto’s wat jy geneem het.  Susanna het geëksperimenteer daarmee om foto’s op materiaal te laat druk en dan kussings daarvan te maak.  Die kussings word te koop aangebied aan gaste by haar gastehuis.  Sy deel ook waardevolle fotografiewenke met die lede.

FEB  3 (5)

 

Twee nuwe projekte is geloods. Adri Kruger begin ’n leesprojek vir hoërskoolleerders met leesprobleme.  Lede gaan ingedeel word om hul kundigheid hier aan te wend.  Tannie Elsie Smuts loods weer ’n breiprojek.  Lede gaan serpe en handskoene brei vir ’n tehuis vir gestremdes in Kaapstad.  Inwoners van Huis Spitskop, ‘n ouetehuis, word hierby betrek.

 

Die sameroeper van Opvoeding, Hannelize van Heerden, het reeds in November aangekondig dat lede weer bymekaar gaan “spook” in 2016 en die spoke het  sommer met mening ingeklim en begin spook!

 

Renée Swanepoel het die maak van ’n papierblommetjie wat op ’n kleinbordjie of geskenk gebruik kan word, gedemonstreer.   Maretta het groetekaartjies uit papierknipwerk in verskillende dimensies wat eie is aan Viëtnam uitgestal.  Lede het hulle ook verlustig aan Sarie Reynolds se skilderye-uitstalling.

 

Omdat Februarie die maand van liefde is, word Breyten Breytenbach se pragtige  liefdesgedig, Ek stuur vir jou my Rooiborsduif, op ’n CD voorgespeel.  Lede geniet ook Johanna van der Merwe se heerlike tuisgemaakte roomys in keëltjies.  Dit was voorwaar ’n genotvolle middag!