Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Beriggewer: Hermien van Zyl

Datum: 6 Februarie 2016

 

Annie Jooste, visevoorsitter van VLV-Kleinmond, het onlangs haar 80ste verjaarsdag gevier met ‘n ontbyt vir vriende en familie, en ‘n hele nuwe maatstaf gestel vir die afsnydatum van oudword.

 

DSCN5910

Kinders en kleinkinders het huldebetuigings vir hulle merkwaardige ma en ouma in hierdie hartjies rondom Annie se verlowingsfoto van destyds, geskryf.

 

DSCN5935

Mariëtta Serdyn (links) het namens die Naaldwerkgroep ‘n koevert aan Annie oorhandig.

 

Die VLV-tak het die spyseniering gedoen volgens die instruksies van hierdie sameroeper vir Leefstyl (Naaldwerkafdeling) en die gimtrim-groep wat sy al vir jare afrig, het die vermaak verskaf toe hulle op Annie se bevel hul passies uitgevoer het op die maat van “Wake me up before you go-go”.

 

DSCN5927

Annie (links) lei die gimtrim-groepie deur hulle passies. Voor is VLV-lede Constantia Cilliers en Mirielle Nel. Die voordansers en Anna-Marie van Niekerk (in groen) in die tweede ry

 

DSCN5931

Kiertsregop en ontspanne lei Annie van voor

 

Jeanette Strydom, ‘n vriendin, het vir Annie ‘n verjaarsdaglied geskryf wat hartlik deur almal saamgesing is omdat dit so ‘n raak beskrywing is van hierdie raakvat vrou.

Met apologie aan Jan Pierewiet lui dit so

Daar’s dinge wat Annie nog nooit sal kan sê

Soos KANNIE of EK SAL MAAR LIEWER BLY LÊ

Want so ken ons ons maat – slaggereed en paraat

So verfrissend kordaat, van vroegdag tot laat!

 

Daar’s dinge wat Annie tog nooit sal reg kry

Soos SLAPLÊ of LEEGLÊ of PLIGTE VERMY

Want so ken ons ons maat – slaggereed en paraat

So verfrissend kordaat, van vroegdag tot laat!

 

Vandag is ons almal nou hier bymekaar

Verheug en blymoedig, want Annie verjaar

En ons wens nou vir haar ‘n fantastiese jaar

Jy moet altyd onthou: ons is bitter lief vir jou!