Sirkel: Worcester

Tak: Maria Stofberg

Studierigting: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Alta Britz

Datum: 4 Februarie 2016

 

Aangesien 2016 Skrikkeljaar is en met Valentynsdag in aantog, het die dames van Maria Stofberg VLV-tak op Worcester besluit om die nuwe jaar op ‘n romantiese  en vrolike noot af te skop. Op 4 Februarie het hulle deur die bank in rooi en wit uitrustings getooi,  opgedaag. Selfs die teetafel was in rooi en wit, met vele rooi harte en o.a.‘n “red velvet cake” en kaaskoek met rooi druiwe!

 

Aangesien dit die Landbouvergadering was, is besluit op ‘n boer as spreker en wie het beter in dié rol gepas as Christiaan Groenewald van 2015 se “Boer soek ‘n Vrou”-faam op TV? Christiaan is ‘n wynboer van die plaas Eagle’s Clift tussen Worcester en Villiersdorp in die Boland en maak  verskeie soorte rooi- en witwyne in sy privaatkelder op die plaas. In 2013 is hy deur Diners Club bekroon as die Wynmaker van die Jaar. Hy het ook van sy bekroonde wyne vir die dames saamgebring.

 

20160204_153420

Hettie Stander (Voorsitter), Christiaan Groenewald en Susan du Plessis (Sameroeper van Landbou & Tuinbou)

 

Hy het verduidelik waar sy plaas se naam vandaan kom nl. van ‘n broeipaar Witkruisarende, wat reeds sedert 1975 op ‘n hoë krans op die plaas broei en waarvan ‘n studie  gemaak word.

 

Daar is egter nie net oor boerdery gesels nie, want die dames wou meer hoor oor sy TV-debuut en die dames wat by hom op die plaas kom kuier het. As spreker het hy hom uitstekend van sy taak gekwyt en het op ‘n humoristiese wyse vertel van dinge wat agter die skerms op die stel gebeur het en van die medeboere wat almal sy vriende geword het. Ongelukkig het hy toe nie sy trouvrou op die program gevind nie.

 

Die dames het die Valentynsvergadering en die spreker baie geniet. ‘n Bietjie romanse doen die hart altyd baie goed!

 

Bettie Swanepoel,  sameroeper van Opvoeding & Kultuur, het elke lid wat hul VLV-kenteken gedra het, met  ‘n sjokolade beloon.

 

20160204_160725

Bettie Swanepoel (Sameroeper van Opvoeding en Kultuur), Jacoba Swanepoel, Sella Swart en Tersia Hayman

 

Die Valentynsmarktafel is  goed ondersteun en R230.00 is ingesamel.

 

20160204_104000