Sirkel: Paarl

Tak: Wellington

Portefeulje: Landbou & Tuinbou, Kunste & Handvlyt

Beriggewer: Juanita Loubser

Datum: 3 Februarie 2016

 

Soveel van ons woon ‘n fees of skou by en daar sien jy hierdie skaapagtige perde/ponies of nou ja, wat noem jy hulle? Daardie diere wat “spoeg”, maar hul het sagte wol. Of is dit familie van die kameel, net in die kleine?

 

????????????????????????????????????

 

Die Alpaca is ‘n besonderse dier. Eintlik merkwaardig as hy in Wellington se warm droë klimaat kan oorleef en dan nog steeds so ‘n gesogte uitsoekdier kan wees wat top gehalte vag produseer om serpe, sjaals, truie en selfs hekelgare aan ons te verskaf.

 

Ons reise deur en om ons dorp neem ons vandag na Klein Limietrivier Farm, so 14km buite Wellington, net onder Groenberg. Quenty Alpacas is so net oor die 5 jaar al in ons midde en was ons nou verslae oor hierdie familie van Groot Constantia wat vir jare Japanese produkte aan skepe en restaurante verskaf het en besluit het om hier hul aftree-passie te kom uitleef na hul kinders gematrikuleer het.

 

Steven en Linda is “hands on” met alles en doen saam agt werkers se werk.  Met 150 diere wat elkeen op die naam genoem word, wil dit gedoen wees.  Hul het die plaas, wat redelik vervalle was, gekoop en drade en heinings opgetel en herstel. Die ou woning en skuur moes ook ‘n “facelift” kry en huisves ‘n deli en ook ‘n produkreeks wat menigte se asem sal wegslaan. Onthou net om jou blou en bruin note saam te bring, anders moet jy maar ‘n elektroniese oorplasing doen, want hier betaal jy vir gehalte wat hou.

 

????????????????????????????????????

Alpaca kom oorspronklik van hoogliggende berge en die Inkas bestempel hulle wol as “fibre from the Gods”. Hulle is wel familie van die kameel en ook die lama. Hul weeg as uitgegroeide diere tussen 50-80kg en is ongeveer 1m hoog tot by skouer. Die ooie is vir 340 dae dragtig en kan op dag 17 na geboorte weer dragtig word. Net ‘n enkele suigeling word gebore en word ‘n “cria” genoem.

 

Twee verskillende soorte Alpaca, die Huacaya wat wol soortgelyk aan merinoskape produseer en die Suri, wat langer lokke soos Angorabokke het. Die Alpaca kan tussen 15-20 jaar oud word.

 

Alpaca word geteel vir hul wol wat sagter, fyner en warmer as die van die merino is. Dit is hipo-allergenies want  hul produseer nie linolien soos skape nie. Hul kleure wissel ook van wit, bruine, grys en swart. Nie net produseer hul wol nie, maar baie boere hou hulle as tropwagters by hul skape aan om jakkalse en rooikat uit te hou.

 

Om die rouproduk tot ‘n bolletjie wol te kry is ‘n tydsame proses wat met deeglike kennis en gespesialiseerde masjiene gedoen moet word. Dit is hier waar die twee mense se skuur jou mond laat oophang met miljoene rande se masjiene wat hul self beman om die wol te was, te droog, uit te waai, te kam, te sorteer en te weeg sodat die gare se draad korrek gaan wees. Die eindproduk is verskillende grade en kwaliteit van Alpacawol wat geweef , gebrei of gehekel kan word. Soms kleur hul die natuurlike gare, maar hul streef na die oorspronklike voorkoms van die diere se kleur.

 

????????????????????????????????????

‘n Weggesteekte juweel wat gekontak kan word by 021-8736242/ 0832503127 of [email protected] .