Sirkel: Tygerberg

Tak: Parow

Beriggewer: Maretha Bester

Datum: 25 Januarie 2016

 

‘n Nuwe jaar met nuwe uitdagings en nuwe vooruitsigte. Na ‘n suksesvolle eerste maandvergadering waar die bestuur hul voornemens vir die jaar kon voorlê en die tak se werksaamhede aan die lede kon bekendstel, is daar aan die heelikste slaaie gesmul – wat anders in so ‘n ekstra warm somer.

 

IMG_0187

2016 Bestuur.

Agter LNR: Leoni Johnston (Visevoorsitter), Nelia van der Westhuizen (Landbou & Tuinbou), Annet Bester (Leefstyl), Joyce Scheepers (Opvoeding & Kultuur) en Renché Jansen (Kunste & Handvlyt).

Voor LNR: Elaine Duvenage (Sekretaresse), Maretha Bester (Voorsitter), Magda de Goede (Gesondheid) en Marita Muller (Tesourier)

 

Daar is vinnig deur die dagbestuur besluit dat ons baie graag by droogtehulp betrokke wil wees. Een van die bestuurslede se mans is verantwoordelik vir die vervoer en verspreiding van water na die droogtegeteisterde gebiede. Elke lid kon van haar teegeld vir die aand, wat R5 is, ‘n leë 5 liter bottel koop en dan by die huis gaan volmaak. Skenkings is ook gemaak en ons kon reeds 32 x 5 liter, sowel as 2 x 10 liter gevulde bottels lewer.

 

IMG_0189

Bestuurslede met klaar gevulde waterbottels

 

Ons is tans besig om ‘n projek waaraan die tak al twee jaar werk af te sluit. Die lede het hulself beskikbaar gestel om betrokke te raak by “Brei ‘n blokkie vir Leserskring”. Ons was verantwoordelik vir die aanmekaar werk van plus minus 10,000 brei- en hekelblokke. Aangesien dit onmiddellik vir ons blootstelling op You Tube en Leserskring se Facebookblad, sowel as Media 24, asook ‘n insetsel op Dagbreek, besorg het, was dit ook baie goed om by mekaar betrokke te raak. Berigte in die Kaapse dagblaaie, veral op Mandeladag, het ons baie blootstelling gebied. Leserskring het deur hul katalogus ook hul lede op hoogte gehou van die projek.

 

Ons kon ure sit net om blokke uit te sorteer en te bespiegel wie, waar en hoe? Dalk is dit onder moeilike omstandighede en dalk ook met nie meer  sulke flukse vingers gebrei nie en of vêr van ‘n dorp sonder ‘n verskeidenheid van wol om van te kies. Vir ons het elke blokkie ‘n storie gehad en het dit amper storiekomberse geword. Die komberse is deur Leserskring versprei na die organisasies wat Media 24 ondersteun.

 

DSCN5221

Klaar komberse

 

So is ons gevra om bedgrootte komberse aanmekaar te werk, want dit is vir die beddens van mammas wat by hul kankerkinders in die Sarah Fox Instituut vir kankerpasiënte moet bly. Sestig groot en klein komberse is hier afgelewer. Verskeie Thuthuzela-sorgsentrums (dit is waar mishandelde kinders en volwassenes versorg word) het ook hul aantal komberse gekry. 11 Ekstra-groot komberse is deur die direksie van Media 24 opgeveil en die R11,000 is vir sorgpakkies aan inrigtings bewillig.

 

Badisa op Malmesbury het ook hulle deel gekry om te versprei waar nodig, asook die Emmanuel Tehuis op Williston. Verskeie ander instansies het ook gebaat by hierdie poging.

 

DSCN5422

Lede wat betrokke was by die vaswerk van komberse.

Agter LNR: Susan van der Merwe, René Honiball, René Gorham, Sophie Mundey, Kitty Mellor, Nelia van der Westhuizen, Marita Muller en Annet Bester.

Voor LNR: Vicky Hough, Maretha Bester, Elaine Duvenage en Magda de Goede

 

 

Nou die hartseer nuus. Leserskring se pad het tot ‘n einde gekom en so ook ons projek van baie aangename ure, lag en kuier. In ooreenkoms met die Bestuur van Leserskring en vir die gemoedsrus van hul lede, gaan die orige blokkies (2,000) aan Badisa geskenk word vir ‘n projek waar vrouens geleer word om die blokkies aanmekaar te werk vir verdere verspreiding. Ons laaste bydra van 200 komberse hier uit Parow gaan Robertson toe. Wat ‘n vreugde was dit om by so ‘n omgee-projek betrokke te wees.