Sirkel: Cradock
Tak: Hofmeyr
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Teresa Opperman
Datum: 18 Januarie 2016
Tydens Hofmeyr VLV se openingsvergadering het Surina Erasmus, predikant vanaf Steynsburg, as spreker opgetree.
“Ons is almal God se gunsteling dogters. Moet dit nooit vergeet nie. Dit maak nie saak wat jy het, hoe jy lyk, wat jy doen en wat jy verloor het in die lewe nie, jy bly steeds Sy gunsteling dogter. Begin gerus aan jouself dink as God se gunsteling dogter en jy sal die lewe in ‘n ander lig sien. Wat ander mense van jou dink en sê gaan jou nie pla nie, jy gaan nie minderwaardig voel omdat jy minder as ander het nie en jy sal nie meer wees net wat jy doen nie, want jy God se gunsteling dogter”.
Surina Erasmus (links) gasspreker tydens die openingsvergadering, en Dada de Jager
Marguerite Hattingh, sameroepster van Openbare Sake, het verslag gelewer rondom die werksaamhede van Hofmeyr Toerisme. Drie volledige toerprogramme met baie meer besienswaardighede as wat baie ander plekke aanbied, is op Hofmeyr vir toeriste beskikbaar. Bergklim, staproetes, 4×4 roetes, plaasbesoeke van stoeterye tot by renperdtelers, saadkwekers, avonture soos Brakrivier River Rafting en Absailing en dan ook genoeg vir kuns & kultuurkenners.
Die Hofmeyr kopbeen is immers hier gevind en het bewys dat hier reeds mense gewoon het meer as 36 000 jaar gelede. Thomas Lord se versameling fossiele is indrukwekkend. Hofmeyr se eie kunstenaars, Fred & Rosemary Jordaan, Linda Opperman en Thomas Lord hou gereeld huiskonserte. Daar is natuurlik ook talle tuine wat ‘n besoek werd is en waar toeriste met ‘n koppie tee in die tuin verwelkom sal word. Meer inligting kan verkry word van die Hofmeyr Toerismevereniging. ‘n Volledige lys van gastehuise en tariewe is ook beskikbaar en behoort binnekort op die dorp se webwerf te verskyn.
Die tema van die dag: “’n Franse Dame” is treffend deur ‘n paar dames as ‘n uitdaging gesien.
Die twee Franse dames wat die dag ons VLV-vergadering bygewoon het. Elmien Downey (links) en Marguerite Hattingh (regs)
Voorsitter, Dada de Jager, en Sekretaresse, Estelle Kruger
Leave A Comment