Sirkel:  Noord-Karoo

Tak:  Victoria-Wes

Beriggewer:  Elize Perrin

Datum:  16 Januarie 2016

 

Na die opening het me. Perrin  as insetsel vir Opvoeding en Kultuur, meer vertel oor die WAT en hulle Borg ‘n woord projek.  Sy het daarop gewys dat die borg van ‘n woord ook ‘n oulike geskenk vir iemand kan wees.  Syself het al aan die projek deelgeneem en aan die dames die sertifikaat gertoon wat ontvang word nadat ‘n woord geborg is.

 

Onder Landbou en Tuinbou het me. Sinclair wenke gegee oor hoe om die hitte vir jou troeteldiere draaglik te maak.  Sy het onder andere genoem dat eienaars moet let op ongewone gedrag by troeteldiere.  Dit is dikwels as gevolg van die hitte.  ‘n Bietjie koue water agter die ore kan verligting bring, veral by honde.  Selfs ‘n opblaaswembad kan uitkoms bied en natuurlik moet daar altyd vrye toegang tot water vir troeteldiere wees.

 

Openbare Sake het aandag gegee aan padveiligheid en dat roekelose bestuurders dikwels die oorsaak is dat mense gestremd gelaat word.  Daar is ook gekyk na die persentasie gestremdes in ons land en watter uitdagings op hul pad wag.  Plakkers wat op motors aangebring kan word, is aan die dames uitgedeel. “Pray for this driver” kan dalk tot grappies lei, maar ten minste sal dit aandag trek en hopelik die boodskap oordra.

 

Me Jeppe het onder Gesondheid aandag gegee aan voedsel se voedingswaarde wat afneem en hoe daar gepoog word om dit aan te vul.  Ongelukkig is sommige verwysings op voedseletikette dikwels misleidend.

 

Vir die Leefstylstudierigting het me. Sinclair ‘n brief, wat in ‘n tydskrif verskyn het, voorgelees.

 

Laastens is interessante nuusbrokkies, oor digters, skrywers en ander gebeure wat honderd jaar gelede plaasgevind het, onder Kunste en Handvlyt aan die dames deurgegee.  Huisgenoot tydskrif is in 1916 vir die eerste keer uitgegee en 1916 is ook die geboortejaar van onder andere Gawie Cillie (komponis), FA Venter (skrywer), Audrey Blignaut (skrywer) en vele ander.