Annelie Botes, Die Burger 12 Januarie 2016

 

Hier in my herfsjare het ek in 2015 aangesluit by PE se Acqua-tak van die VLV. Dalk oor ek soos ‘n slymslak voel omdat my ma ‘n kranige VLV-vrou was, en mý vordering kom nie juis verder as geheimenispasteie bak met oorskietkos nie. Hoeka het die gryse sedert sy vlootjare doer in 1972 ‘n weersin in mystery pies. Verál kerrie-konkoksies.

 

Spoedig ontdek ek Acqua-VLV is nie gesteld op kompetisies, beoordelaars, pryse en trofees nie. Dis eerder ‘n makietie van kreatiewe siele wat die 2de Woensdag van die maand by die PE Gholfklub saambondel vir lag, eet en gemoedere lug. ‘n Bevryding vir mý is die afwesigheid van snobisme, klieks en ‘n bose geskinder. Hul strewe is om esprit de corps te bou, en as korps hul hande en harte na mense in nood uit te steek. As hulle nie besig is om slaapsakke te maak vir straatslapers nie, is dit bejaardes wat maandeliks ‘n kospakkie én emosionele stut kry. Indien nodig spring die vrouens met skoonmaakgoed en lappe in daar by die oues. Kraaknuwe onderklere vir kinderhuisdogters. Sop en brood vir wagtende kranklikes by die Provinsiale Hospitaal. Hekelkombersies vir gestremde kinders. Kosinsamelings vir verwaarloosde diere. Die lys is legio.

 

Al beskryf die gryse my as ‘n kruising tussen Hitler, Adi Amin en enkele sproete van Moeder Theresa, baat dit my siel om goodwill uit te deel. Terwyl ek geen ywerige kerkdrumpeltrapper is nie, vind ek meer genoegdoening en geborgenheid by die VLV as by enige kerk waaraan ek al behoort het. Dit wat die VLV-vroue vermag, is offers uit hul hartsakke; niemand ontvang ‘n salaris in ruil vir goedguns of dienste nie.

 

By elke byeenkoms stal Rocklands se Sonneblom Tuisnywerheid koekies, lekkers   en beskuit uit, skandegoedkoop. Rêrig, my VLV-ma kon nie sulke aptytlike beskuit bak nie. Desember koop ek ‘n berg beskuit, want ons Rudolph-kind is tuis oor Krismis. Nou is daar min dae oor voor die wegneemvoël hom wegdra. Op dié bestel ek beskuit vir saamstuur. Dinsdag toe die hitterekords spat, ry ons Rocklands toe om die beskuit te kry.

 

Daar staan ek oorbluf oor wat ‘n paar vroue in 3 jaar met wilskrag vermag het. Aanvanklik uit ‘n oop gazebo, vir ‘n jaar lank. Later uit ‘n uitbouing van die plaashuis. Posseëlkleine kombuis, maar hulle draf kaalvoet rond; bak Hertzoggies, konfyttertjies en  plaasbrood; maak jafels en klapperlekkers. Op hulle hande lê jare se werksmyle.

 

Met die wegry is ek stilstom. Ek dink aan Salomo wat in die Bybelse tye geskryf het oor die deugde van ‘n knap vrou. Haar lamp brand heelnag. Sy verwerk linne en wol en sit by haar spinwiel. Wintertyd is sy gerus as dit sneeu, want al haar huismense dra warm klere. Toe weet ek onwankelbaar: solank die VLV landswyd bestaan en vorentoe beur, sal vele ankerpale regopgehou word. Lank lewe Acqua.