Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 2 Desember 2015

 

In die aanloop tot die seisoen van oormaat en frenetiese bedrywigheid, staan ons tog so nou en dan stil. Stokstil en stom verbaas oor die aantal dae en ure, die gebeure en belewenisse wat ons gebring het tot hier. Die 2015 lewensdoek is ‘n bonte borduurstuk ryk aan tekstuur. Plek-plek grof gewerk, maar genoegsaam afgewissel met ragfyn stekies. Die lag-oomblikke, die onthou-oomblikke, die hoogtepunt-verrykende-ewigheidsoomblikke is die garedraadjies wat sysag onder die vingerpunte lê. Die growwe wolle is die skrynerige werd-om-vergeet-te-word-oomblikke. En as dankbaarheid in kleur vergestalt kon word, is die afgelope jaar pure reënboog. As gevolg van en juis ten spyte van het ons baie, baie om voor dankbaar te wees. Nooit was ons alleen nie, nooit was ons uitgelewer of afgesonder nie, want ons is deel van ‘n Groter Plan. Ons is ook deel van ‘n vriendekring, ‘n brigade van Evas wat mekaar met gebed, liefde en omgee koester, in die hart dra, op die hande dra, help en tot hoër hoogtes stu. Hoe bevoorreg kan ‘n vrou, ‘n mens, ‘n Acqua-lid dan tog wees.

 

Acqua se Kersfees Kabaret by PEGC op Woensdag, 2 Desember, het die Acqua-vriendinne ook met dankbaarheid gevul. Die hele jaar lank het ons in mekaar se menswees gedeel en dit was net goed en reg om die VLV-jaar in mekaar se geselskap af te sluit. Op die maat van musiek, want die lewe is mos tog ‘n lied! Die ore het gefees met woord en klank, daar was mooi aangetrek en die lippe was blinkrooi gesmeer. Die huismense het geweet om die vrou van die huis nie te vroeg te verwag nie. Daar is met oorgawe en uitbundigheid geluister, gesels, geëet en gelag. Selfs meer as gewoonlik, want dis Krismis!

 

100_3205 100_3206 (1)

100_3209

 

So aan die einde van die jaar het lede hul diensknopies ontvang. Daar is 29 lede wat reeds 5 jaar en meer (maar minder as 10 jaar) lede van VLV is. Tien lede het 10 jaar knopies ontvang. Vier lede is al 10 jaar (en meer) lede van VLV-Acqua. En dan het die groot kanonne knopies vir 20, 25 en 30 jaar onderskeidelik ontvang. VLVK se visepresident, Lynette Martin, is ‘n stigterslid van Acqua en reeds 33 jaar ‘n VLV-lid. Haar suster, Sandra, is kort op haar hakke met 31 jaar lidmaatskap.

 

100_3218 (1)

‘n Vrolike groep wat tussen 5 en 10 jaar lidmaatskap het

100_3225

Sandra & Lynette

100_3223 (1)

Marie Ferreira – reeds 26 jaar ‘n lid van Acqua

 

Tong in die kies is daar ook sertifikate vir besondere prestasies uitgedeel. Diane Faure het ‘n sertifikaat ontvang vir haar onbaatsugtige hulp met Acqua se Goedheid en Guns sopprojek. Fredalene Snyman se bestuursvernuf met ‘n gholfkarretjie, Wanita Nielsen se luidkeelse deelname en ongeëwenaarde entoesiasme vir alles Acqua en Ragel Rielly se grootse ledewerwingspogings het aan hulle elkeen ook ‘n sertifikaat besorg.

100_3226 (1)

Fredalene, Wanita & Ragel

 

Monique van Driel, ‘n musiekstudent aan NMMU, het almal in die regte stemming vir Kersfees gekry. Die Kersfees Kabaret is nou al ‘n instelling by Acqua en 2015 is geen uitsondering nie. Kersmusiek en bekende Afrikaanse liedjies het met gemak van haar tong gerol.

 

Annelie Botes het ‘n voorlesing gedoen oor die ontstaan van Stille Nag, die lied wat reeds in 1816 geskryf is deur Joseph Mohr. Annelie is nie net ‘n befaamde skryfster nie, maar ook orrelis van formaat en na dese gevestig as ‘n vrou met uitsonderlike musiektalent, want sy het haar voorlesing afgesluit op die mondfluitjie.

 

Dit was ‘n smaakvolle en fyn gesnaarde aand. Acqua het die jaar in die regte stemming afgesluit.

 

Elke Acqua-vriendin is ‘n belangrike en onmisbare deel van die lewensdoek waartoe elkeen van ons die afgelope jaar bygedra het. Dit is ‘n ongelooflike voorreg om deel te wees van ‘n groep vroue met gedeelde belangstellings, harte so groot soos waenhuise en die kollektiewe vermoë om empatie, deernis en naasteliefde tot voorreg te verhef. Acqua is voorwaar die versinnebeelding van vriendskap en vroulike krag.

 

Mag hierdie Kersgety vir ons almal groot vrede en rustigheid bring in die wete dat ons ‘n Almagtige en Wonderbare Heerser dien. Ons bede in hierdie seisoen van oormaat, is ‘n oormaat verdraagsaamheid, vergifnis, geduld en respek – nie net teenoor almal wat jou omring nie, maar ook teenoor jouself.