Sirkel: Namakwaland

Tak: Hantam

Portefeulje:   Gesondheid

Beriggewer: Janine Brynard

Datum: 27 November 2015

 

Aanvanklik het die wenkbroue gelig vir die nuwe “gier” – om alles wat altyd nog gaargemaak was, eerder rou(er) te eet.  Maar deesdae, besef al meer mense, dat daar wel groot waarheid in steek, om terug te keer na oertradisies wat kosvoorbereiding en –innames behels.  Die wêreld steier onder vetsug en leefstyl verwante gesondheidsiektes, wat besig is om ‘n epidemie te word.  Daarom verdien dit tyd en energie om aan gesonder, alternatiewe maniere te dink.

 

Tydens Hantam VLV se Gesondheidvergadering, het Kirsten Fourie en Aneen Nel demonstrasies gehou oor hoe eenvoudig (en héérlik) die raw-licious eetrewolusie kan wees.  Dis al geruime tyd dat die tak fokus daarop om gesonder leefstyle aan te kweek en sprekers oor die onderwerp het die gemeenskap van Calvinia met hul getuienis kom inspireer.  Nou fokus ons daarop om dit prakties in ons eie lewens waar te maak.

 

1

Kirsten Fourie en Aneen Nel demonstreer hoe om gesonde, rou disse te maak wat eenvoudig, bekostigbaar en heerlik is, tydens Hantam VLV se Gesondheidvergadering

 

Die geheim is om dit, met klein veranderings aanvanklik, in jou en jou gesin se daaglikse spyskaarte in te werk:  Begin ontbyt met ‘n heerlik verfrissende groen-sap:  ‘n kombinasie van groentes in ‘n versapper vermeng; ‘n rou muesli-mengsel of ‘n chai-ontbyt:  weereens ‘n mengsel van rou sade en ander heerlikhede om ‘n vars, gesonde, veselryke begin tot die dag te maak.

 

2

Rou patatspirale vir ‘n gesonde aandete.  Kirsten Fourie en Jonita van der Merwe wys hoe maklik dit is.

 

Tussen-in-versnaperings is belangrik en kan enigiets van sap, banting-beskuit, klappervlokkies, gesonde fudge of vrugtevariasies wees.

 

3

Aneen Nel demonstreer hoe om heerlike soet klapper-lokkies te maak vir ‘n gesonder tussen-in happie.

 

Middagete kan wees ‘n slaairolletjie, soet groenrissies met roomkaas, neutbotter op groentekraakbeskuitjies, uitgeloopte groente-spruite in roerbraai en gesonder mayonnaise op ‘n banting-broodjie.

 

Met ‘n groentenoedelmaker, kan aandete omskep word in ‘n rou groentenoedelgereg met ‘n heerlike groentesous…vullend, gesond en njammies!

 

En selfs poeding kan rou en gesond wees:  Maak avokadomousse (dit proe nét soos sjokolademousse!!), gesonde ingelegde perskes (sonder enige suiker!) en appelhappies met grondboontjiebotter en Lindt sjokolade…ryk, romerig en heerlik gesond.

 

Nie een van die gesonder alternatiewe tot ongesonde kitskosse, behoort jou kosbegroting in ‘n maand seer te maak nie.  Omdat rou produkte soveel meer nutriënte bevat en meer vullend is, is kleiner porsies genoeg om ‘n mens versadig te laat voel vir langer periodes.  Jou liggaam baat daarby op soveel maniere en dis regtig ‘n baie maklike manier om jou gesondheid te verander.  Gryp die uitdaging aan en sien hoe jou lewe gaan verander!

 

4

Die eindproduk: voedsaam, gesond, bekostigbaar, LEKKER!!!  Banting-broodjies, rou groentepasta met groentesous en Fetakaas, rou saad-kraakbeskuitjies, gevulde groen soetrissies en meer.