Sirkel: Noordoos-Kaap

Tak: Dordrecht

Studierigting: Leefstyl

Beriggewer: Antoinette van Pletzen

Datum: 12 November 2015

 

WEG-tydskrif se Nasionale Melktertdag vir 27 Februarie 2016

 

Nasionale Melktertdag is op 27 Februarie en daar word jaarliks deur WEG-tydskrif landwyd ‘n kompetisie gehou. Daar is groot pryse, ter waarde van R22 000.00, te wen vir die eerste drie plekke.

 

Om te kwalifiseer vir die kompetisie moes elke deelnemer ‘n 200-woord paragraaf skryf oor waarom haar melktert moet wen en waar sy haar liefde vir melktert gekry het. Daarmee saam moes die deelnemer haar resep en ‘n foto van haar by haar gebak instuur.

 

Die kompetisiebesonderhede is deur Sirkel NOK na die VLV-lede versprei en Marieka Bekker en Christie Campher van Dordrecht-tak het deelgeneem. Dit was groot pret vir die twee om die melkterte te bak en op geskikte foto’s te besluit.

 

Foto 1

Marieka en Christie se foto’s vir die melktertinskrywing

 

WEG het ‘n kortlys van name bymekaargestel en telefonies met die finaliste ‘n kort onderhoud gevoer. Marieka Bekker het gekwalifiseer vir die kortlys, asook vir die Top 5. Op Dinsdag, 10 November, het WEG die plaas Weenen besoek. Die beoordeelaars was Sophia van Taak, WEG-joernalis en Martjie Malan, naaswenner van Koekedoor 2015.

 

Vroegoggend het Marieka al begin met die voorbereidings vir die dag se melktert bak. Sy moes vir die twee beoordeelaars die kors en melktertpap maak, sodat hulle die hele proses kon waarneem en ook sien of sy die resep volg soos wat sy in haar inskrywing gemeld het.

 

Marieka en haar buurvrou, Christie, het lekker saam met Martjie en Sophia gekuier, en daar is baie gelag en pret gemaak. Martjie het ook ‘n bietjie gedeel oor haar Koekedoor-ervaring en wenke gegee oor algemene gebak. Sy het kort-kort, met haar vingers in die potte, kommentaar gelewer oor Marieka se melktert.

 

Foto 2

Marieka en Martjie besig om die melktert te bak

 

Nadat die melktert ‘n rukkie afgekoel het, het die dames elk (gereed met ‘n koppie koffie in die hand) gretig gesit en wag op Martjie wat die melktert gesny en opgedien het. Sy het Marieka geprys vir die mooi kleur en tekstuur van die melktert. Sophia het elke oomblik vasgevang met haar kamera! Die beoordeelaars het so baie van die tert gehou dat hulle sommer ‘n tweede stukkie geëet het!

 

Marieka het ook ‘n geskenkpak van WEG ontvang vir haar deelname aan die kompetisie. Die name van die Top 3 deelnemers sal in die Februarie uitgawe van WEG geplaas word. So tot dan is dit ‘n gewag en ‘n gewonder!

 

Foto 3

Sophia van Taak, Marieka Bekker en Martjie Malan. Regs bo: Christie Campher saam met Sophia van Taak en Martjie Malan. Regs onder: Christie Campher, Martjie Malan, Sophia van Taak en Marieka Bekker

 

Ons hou vir Marieka duim vas en hoop regtig dat sy ‘n plek sal behaal in die Top 3. Hou die Februarie WEG dop!