Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Sameroeper: Hannelie Low

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 11 November 2015

 

Acqua se voorlaaste vergadering van die jaar was ‘n lékker een. Landbou & Tuinbou. En synde die Kwa-Kwa’s mos nou nie die hoendertjies in die agterjaart aanhou nie, was daar niks gepraat oor LANDBOU nie, maar wel lekker gesels oor TUINBOU.

 

Dit beteken nié dat die Acqua-lede nie georganiseerde landbou ondersteun nie. Eweneens het die tak groot empatie met die boere wat gebuk gaan onder ‘n knellende droogte.

 

November is die maand wat plante op hul vinnigste groei. Net reg om ‘n pragtige skouspel van kleur vir die Feesgety te gee. Daar’s darem niks wat kan kers vashou by ‘n lowergroen tuin met vrolike spatsels kleur nie. Daar is ook geen geskenk wat so aanhou bly gee, soos ‘n plant nie.

 

Die gasspreker, Juanita Hackart, het haar liefde vir tuinmaak en plante op ‘n vrolike en entoesiastiese wyse oorgedra. Sy het drie houers versier om as geskenke te dien en dit geplant met onder andere Echeverias uit haar tuin.

 

A3  A2

 

Landbou & Tuinbou sameroeper, Hannelie Low, het baie moeite gedoen om die middelplasings op die tafels by die portefeulje te laat aanpas. Elke gas het ‘n botteltjie wurmtee as funksie-gunsie gekry en die vingers het sienderoë groen geraak. Hierdie naweek maak die Kwa-Kwa’s tuin!

 

A1

 

Synde die drumpel van die Kersgety onder ons voete is, was die samekoms ook gulde geleentheid om lid, Riëtte Wilken van House of Bakes, ‘n demonstrasie te laat doen. Sy het gewys hoe daar maklik glinster aan neute en sjokolade verleen kan word. Ideaal vir geskenkies op die Kerstafel.

 

Soos elke ander Acqua-samekoms was ook die Landbou & Tuinbou vergadering ‘n jolige en welige affêre.