Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Beriggewer: Hermien van Zyl

Datum: 6 November 2015

 

13 VLV-lede van die Kleinmond-tak het op Vrydag, 6 November ‘n uitstappie na Stellenbosch onderneem. Jubileumhuis, in historiese Dorpstraat, hoofkantoor van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland, was die eerste stilhouplek. Die dames het hulle verwonder aan die pragtige pryswennerhandwerk van VLV-lede in die Tekstielmuseum, asook die ongelooflik-mooie kantwerk van die Emily Hobhouse-kantversameling wat daar op permanente bruikleen van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, uitgestal word. In die Argief, waar al VLVK se geskiedkundige dokumente en foto’s bewaar, het Mariana Jordan, VLVK-sekretaresse, die kaste oopgesluit sodat Kleinmond se lede kon sien waar word al die jare se foto’s en berigte wat na Huis&Haard gestuur is, sorgvuldig bewaar. Die lede het groot lof gehad vir die ordelikheid van die uitstallings en die algehele mooi indruk van Jubileumhuis waarmee die besoeker vertrek.

 

Op uitnodiging van Rika Raats, inwoner van Kleinmond en lid van die VLV-tak, het die groep daarna die wynlandgoed Longridge besoek waar haar seun, Jasper Raats die bestuurder/wynmaker en mede-eienaar is. Die groep is in Afrikaans verwelkom, op ‘n keldertoer geneem en kon daarnà na ‘n video kyk wat die plaasbedrywighede en wynboupraktyke in Afrikaans verduidelik met Engelse byskrifte. Vir die toeris moet dit ‘n besondere belewenis wees om die plaas se werknemers in hul kleurryke moedertaal te hoor praat en die verduideliking in Engels te sien, sou hulle nie Afrikaans verstaan nie. Hiermee sê Jasper Raats ook hy salueer die bydrae wat die Afrikaanse boer tot die uitbouing van die bedryf gemaak het.

 

Hier hou die verbintenis met Afrikaans egter nie op nie. Op al die verskillende wyne se bottels is die etikette in Afrikaans en volgens mnr Raats is dit beslis ‘n interessantheid vir veral die Europese wynversamelaar. Behalwe dat daar ‘n wyn na Rika Raats vernoem is, is daar ook een wat vir Emily Hobhouse vereer. Die laaste verrassing was om in die restaurant van ‘n spyskaart af te bestel waar Afrikaans naas Engels by elke gereg pryk. Vir VLV-vroue wat vertroud is met die Suid-Afrikaanse kookkuns en weet hoe swaar die toerismebedryf steun op die tradisionele Afrikaanse resepte, is dit goed om te sien dat daar ook erkenning is vir die taal van ons kospioniers. Hoekom kan meer restaurante dit nie doen nie? “ Wys jou net! Dit kan in Afrikaans gedoen word.” Dit was die oorweldigende reaksie by die VLV-lede wanneer die sukses van die uitstappie onder die loep geneem word.

 

RSCN3887

Die vrolike groep VLV-vroue in Jubileumhuis. V.l.n.r. Hermien van Zyl, Annie Jooste, Daphnè Loots, Anne Meershoek, Ninnie du Toit, Anna Naudè, Etta Eksteen, Marita Grobler (agter), Lisbè Badenhorst, Rika Raats, Cecile Jonkheid, Marietta Serdyn en Sylvia Coetzee.

 

DSCN3868

Marianna Jordan, VLVK-sekretaresse (middel) wys vir Cecile Jonkheid, taksekretaresse (links) en Ninnie du Toit, takvoorsitter, foto-albums in die Argief

 

RSCN3890

‘n Foto met ‘n storie – die oorspronklike VLV-potjie wat in die vuurherd van die Van Eedens in Riviersonderend gehang het en in 1931 deur mev Jossie Ackermann geskets en sy staanplek op die VLVK-kenteken gekry het. Links staan Hermien van Zyl wat dit per (on)geluk in 2003 opgespoor het en regs Lisbe Badenhorst wat in die laat 70’s en vroeë 80’s in die huis gewoon het.

 

DSCN3882

Rika Raats luister na haar seun, Jasper Raats, in die proelokaal/wynkelder van die Longridge Wynlandgoed.

 

DSCN3885

Annie Jooste en Anne Meershoek geniet Diepgebraaide kruieblare in beslag met ‘n doopsous van die Afrikaans/Engelse spyskaart.