Sirkel: Weskus

Beriggewer: Nicoline Brown

Datum: 31 Oktober 2015

 

Op Saterdagoggend, 31 Oktober, kom dames van al die takke in Sirkel Weskus in Porterville se NG Kerksaal byeen.

 

Met die intrapslag word jy verwelkom met pragtige uitstallings van kleintyd se dooprokke en vervloë dae se trourokke, aandtabberds en mooi dagrokkies! Tweehonderd en twintig dames se tafelname is keurig op ‘n bord in die voorportaal aangedui.

 

062

 

Elke tafel is pragtig versier met antieke koppies, waarin ‘n plantjie geplant is. ‘n Kunstig versierde kolwyntjie is vir elke dame op ‘n wynglas voor haar sitplek gedek. Almal was in groot afwagting vir die verrigtinge van die oggend!

 

 

Porterville-20151031-00350  Porterville-20151030-00332

Mev Estelle du Plessis, Sirkelpresident van Weskus, verwelkom die dames en open met ‘n pragtige videosnit. Sy gee ‘n kort beskrywing van die VLVK se doelstellings en missie – spesiaal vir die dames wat nie ‘n VLV-lid is nie. Hierna word drie pragtige sangitems gelewer deur twee manne van die Walliese Mannekoor. Die dames het hulle sang baie geniet.

 

Toe breek die groot oomblik aan en Karin van Wyk (mev SA-finalis) word aan die woord gestel. Sy stel haarself voor as ‘n doodgewone 47-jarige vrou vir haar man en ma vir haar 4 kinders. Sy boer saam haar man in die distrik van Ceres.

 

Dan vertel sy hoe haar lewe draaie geloop het tot waar sy ingeskryf het vir die mev SA-kompetisie. Dit het haar lewe baie verryk en sy glo dit is ‘n stukkie van ‘n legkaart om uit te vind waar en wat jou doel op aarde is. Haar lewensuitkyk is dat jy gekies is om ‘n verskil te maak!

 

Nadat sy ‘n Bright Star Lifestyle-kursus gedoen het, het sy met Ester-aande vir hoërskoolmeisies in haar “boetiek/huis” in die dorp begin. Sy probeer om met haar praktiese kursusse vir die leerders te verduidelik hoe om terug te gaan na die wortels waar jy geplant is, wanneer jy teleurstellings moet oorkom en verwerk.

 

Een van die pragtigste getuienisse was tydens die onlangse plaasopstande/onluste in die omgewing. Karin en haar groepie skooldogters het vir al die pa’s, oupas en plaaswerkers by God ingetree. Elkeen het ‘n wit duif losgelaat as ‘n teken dat God se Gees en geen ander bose magte oor Ceres-vallei sal heers.

 

Verder beklemtoon sy dat ma’s met hulle kinders oor dieper geestelike sake moet praat terwyl jy nog kan en hul in die huis is.

 

Nou het haar klem verskuif en besef sy moet haar lewensdoel uitleef op die plaas.  Sy is nou baie betrokke by die mense op die plaas en probeer om goeie verhoudings met al die plaaswerkers te bou en te ontwikkel.

 

Karin het nou wel nie onder die eerste 12 finaliste geëindig nie, maar vir al die Weskus-dames was sy ‘n ware prinses! Sirkel Weskus kroon haar as Lentekoningin.

 

_MG_0815

Karin van Wyk is deur die Sirkelpresident gekroon as Weskus se eie Lentekoningin

 

Na die heerlike verversings en tee het die dames nog lank saam gekuier en almal was dit eens dat hierdie ‘n heerlike VLV-damesoggend met inspirasie en motivering vir elkeen was.

 

_MG_0831

Sirkelbestuur en voorsitters saam met Karin van Wyk, heel regs voor,  asook twee voormalige Sirkelpresidentes regs agter, mevv. Rosa Lategan en Louwna Hoving