Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Beriggewer: Hermien van Zyl

Datum: 27 Oktober 2015

 

Niks kon die vrolikheid en entoesiasme demp waarmee die VLV-lede en gaste op Dinsdag, 27 Oktober, die tak se dertigste bestaansjaar herdenk het nie.

 

DSCN3831

 

Die hittegolf is teengewerk met bekers yswater, ‘n latere seeluggie en vroue se ingesteldheid dat ‘n bietjie hitte hulle nie onderkry nie. Hierby het gasspreker, Cornie Swart, president van Agri WesKaap, aangesluit toe hy die vroue in die landboubedryf geloof het vir hulle onskatbare bydrae om sosiaal-maatskaplike kwessies aan te spreek en te help oplos. In ‘n welwillendheidsopname wat onlangs deur AWK voltooi is, word duidelik uitgewys hoe daar reuse opheffingswerk in die Wes-Kaapse gemeenskappe gedoen word deur vroue wat by gemeenskapsprojekte betrokke is. “Vroue met Visie (VLVK se tema vir 2015) verstaan dat hulle bydrae en ondersteuning een van dié belangrikste pilare van die landbou is” het Swart gesê en gevra dat die waarde wat hierdie vroue tot die landbousektor toevoeg, groter ondersteuning en erkenning kry. Hy het aan die VLV voorgestel dat die leuse van VLV nl. Vir Huis & Haard, aangepas moet word om te lui Vir Huis, Haard en Gemeenskap.

 

12122901_10154003650907580_2407216298506414341_n

Hermien van Zyl, taksaamroeper vir Landbou&Tuinbou verwelkom die gasspreker, Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap.

 

Die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland is reeds sedert 1995 by onderskeidelik Agri Wes-, Oos- en Noord-Kaap geaffilieer. Die vrou as verbruiker moet weet hoe word die kos wat sy voorsit, geproduseer, verwerk en versprei. Die vroue van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland is nie almal boervroue nie, maar hulle is almal verbruikers.

 

Mnr Swart het ook aangehaal uit sy presidentsrede by die jaarkongres van Agri Wes-Kaap met die tema “Die Toekoms kom van die Plaas af”. Dis ‘n groot waarheid wat deur Suid-Afrika se leiers, beleidmakers en verbruikers besef moet word. “Landbou se bydrae strek vêr verby die bord kos op jou tafel”, sê Swart. Op mediese gebied is die hedendaagse praktyke en prosedures rondom menslike vrugbaarheid ontwikkel uit kunsmatige inseminasie wat reeds in die 50er en 60er jare standaardprosedure op koeie was. Selfs gholfbane se onderhoud is niks anders as toegepaste agronomie nie, want wat op die plaas en in die landerye geleer is, word in kweekhuise en kwekerye en op gholfbane toegepas. Suid-Afrika se produsente staan aan die voorpunt van landbou op die Afrikakontinent en hulle kundigheid sal in die toekoms noodsaaklik aangewend kan word om voedselsekerheid verder as ons grense te verseker.

 

Groot verantwoordelikheid gaan egter rus op die produsent om te verhoed dat ekosisteme en biodiversiteit degradeer en terselfdertyd voedselproduksie met ‘n bevolkingsontploffing in pas te hou. Syfers van PWC dui daarop dat 50% van die wêreldbevolkingsgroei in 2025 in Afrika gaan wees. Daar is nie ‘n tekort aan landbougrond om ekstra voedsel te produseer nie. In die ontwikkelende lande is meer as 1800 miljoen ha grond beskikbaar en wêreldwyd meer as 2830 miljoen ha. Suid-Afrika het 100.7 miljoen ha landbougrond. Daarvan is 14.5 miljoen in opkomende boere se hande en 82.2 behoort aan kommersiële boere. Die res is staatseiendom. Suid-Afrika het ‘n formidabele landbousektor wat moet byhou by die dinamika van verandering. Dit bepaal ook ons nalatenskap aan die volgende geslagte.

 

Essie Groenewald het hom bedank met ‘n VLV-geskenkpakkie en Hermien van Zyl, taksaamroeper vir Landbou&Tuinbou het ‘n Afrikaans-roos aan hom oorhandig om by AWK se hoofkantoor in die Paarl geplant te word ter herdenking van Afrikaans wat 90 jaar ‘n amptelike landstaal is.

 

Die immergewilde Stef Liebenberg het die vol saal toehoorders vermaak met die klavierwysies van liedjies uit al drie dekades van die VLV-tak se bestaan, voordat voorsitter Ninnie du Toit ‘n kort oorsig oor die tak se geskiedenis gegee het. Daarná het visevoorsitter, Annie Jooste, 30 jaar-kentekens aangesteek vir die oorlewende stigterslede Melene Weyers, Thelma Vitale en Rita le Roux, en vir  Wilma Fÿfer een van 60 jaar, en het hulle vier, saam met erelede Dimsie Krone en Hermien Fÿfer, die koeksnyseremonie waargeneem. En toe kon die lede en gaste heerlik kuier rondom die teetafel, kunstig verfraai deur Sybil Morkel met VLVKaapland-rose en hibiskus, die juwele-uitstalling van Hendriette Cruywagen bewonder en deur die takalbums blaai.

 

DSCN3825  DSCN3834

 

Soos Alice van Rooyen, saamroeper van Gesondheid, met die opening gesê het, en die Maranatha-lofdansers so treffend uitgebeeld het, vier VLV-Kleinmond hierdie geleentheid met ‘n diep dankbaarheid teenoor die Hemelse Vader wat die tak vir 30 jaar op koers gehou het.