Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Victoria-Wes

Studierigting: Leefstyl

Beriggewer: Elize Perrin

Datum: 24 Oktober 2015

 

Na opening het sommige van Victoria-Wes Akademie se matriekdogters hul afskeidrokke aan die dames kom vertoon.

 

SANYO DIGITAL CAMERA

Van die matriekdogters met hul afskeidrokke

 

Mevrou Willinie Sinclair het die boek, Swiets, aan die dames bekend gestel. Dit bevat resepte vir soet lekkernye en is deur Simone Balman geskryf. Meer inligting oor die geskiedenis van melktert, Hertzoggies, koeksisters, ens. is ook aan die dames oorgedra.

 

Eetgewoontes van toe en nou is ook bespreek. Beroking van geregte en glutenvrye produkte het oor die jare in gewildheid toegeneem.

 

Die bekende sjef, Topsi Venter, is deur me. Perrin aan die dames bekendgestel. Me. Venter is in 1930 gebore en vier dus saam met Victoria-Wes tak vanjaar haar 85ste verjaarsdag. ‘n Interessante resep vir tongbobotie, wat deur me. Venter en Francois Fereirra ontwikkel is, is vir die dames uitgedeel.

 

Hierna het me. Sinclair wenke gegee oor hoe om jou huis behoorlik op te ruim. Dit is na aanleiding van ‘n boek wat deur Marie Kondo geskryf is. Die reël is, “wat nie vreugde gee nie, moet uit.”

 

Voor teetyd het me. Sinclair aan die dames gedemonstreer hoe sy artikels met ‘n tuisgemaakte weefraam maak. Nadat die laaste sake afgehandel is, is ‘n glasie geklink op die geseënde jaar wat verby is.

 

Sinclair demonstreer hoe die weefraam werk.

 

Ons klink ‘n glasie…