Sirkel: Namakwaland

Tak: Vredendal

Beriggewer: A Beelders

Datum: 22 Oktober 2015

 

Die plaaslike VLV-tak het die jaar afgesluit met goeie wenke vir ‘n bevredigende lewe. Hierdie wenke is deur die sameroepers aangbied.

 

Pat de Waal het die waarde van oefening benadruk en verder voorgestel dat daar sommer ook van opgehoopte rommel ontslae geraak word.

 

Dalene Hein het raad gehad vir van troeteldiere tot die leë sonkolle in die tuin. Moet nooit jou troetelkat of -hond met jou eie medisyne dokter nie, gaan eerder veearts toe. Vir daardie leë kolle in die tuin is daar ‘n groot verskeidenheid tipe plantjies en vetplante om van te kies. Dit verg min aandag en water – die grond moet net goed dreineer. Veral die Calensu met sy verskillende kleure mooi blommetjies is baie gewild. Oktober is ook die maand vir aan die kant maak in die tuin. Verwyder dooie blare, blomme en takke, en verdeel meerjarige plante.

 

20151022_100441

Sanet Ras, Voorsitter en rooskenner, moes spesiaal voorbeelde van haar rose kom wys en verduidelik.

 

Elmarie Fouché het wenke gehad vir die verwesenliking van jou drome. Sy noem geduld, liefde, ‘n gesonde lewenstyl, om familie en vriende te koester, verryk te word deur kennis en musiek en vreugde te vind in die kos en drank wat jy gebruik.

 

Nonnie van Wyk het vertel van die terapeutiese waarde van prente inkleur.  Daar is nou selfs inkleurboeke vir volwassenes, onder andere een deur Lize Beekman.

 

Rita Eitner het die noodsaaklikheid van ‘n groen leefstyl benadruk. Goeie koopwenke is om groente en vrugte altyd in seisoen te koop en nooit in verpakkings nie. Maak ‘n lysie vir jou kersinkopies en hou by eenvoudige nuttige gebruiksartikels. Sy beveel kosmaak in die mikrogolf aan oor die krag- en tydbesparing. Sy het ook ‘n handige resep vir ‘n skoonmaakmiddel uit gewone huishoudelike bestanddele. Sy haal Golda Meir, Israeliese premier aan, wat gesê het: “It’s not what you gather, but what you scatter, that say what kind of life you have lived.”