Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 14 Oktober 2015

 

In die gees van die 2015 Wêreldbekertoernooi het Acqua pale toe gemik met die tak se 31ste verjaarsdag. Acqua se 31ste jaar is met groot fanfare afgeskop. Die partytjiegangers het hulself nou wel nie op Twickenham, Wembley of St. James Park bevind nie, maar ag wat, PEGC is net so lowergroen.

 

Die Kwa-Kwa’s was geklee in groen en goud, nommer op die rug, toks aan die voete en bal onder die arm. Diegene wat al so ‘n bietjie lank in die tand is en nie bereid was om ‘n Victor te trek nie, het as ondersteuners gekom. Verbande, pleisters en beserings ten spyt, die lede staan agter Acqua, nes Suid-Afrika agter die Bokke staan.

 

mms_img-1546762936

 

Die dames was gewaarsku om tog maar kort duskant die kroeg te draai wanneer hulle arriveer. Die kroegsitters se verduideliking by die huis dat die Springbokke in PE is, sou sekerlik met groot ongeloof en meer as net ‘n knippie sout (hoeveel Tequilas??) aangehoor gewees het. Om vrolik van die gholfbaan af terug te keer is een ding, maar om te glo die Bokke was by die klub, is ‘n ander ding!

 

Dis nie net ons manlike eweknieë wat hulle rugby ken nie. ‘n Vinnige vasvra, die kwa-Kwa-Rugga-Raai, het bewys dat die vroulike geslag ook kennis dra van Jean, Victor, Fourie en dergelike rugbydinge. En natuurlik wanneer (1984) Acqua bestaansreg gekry het, en wie nog steeds lede van die tak is. Hoe kan ‘n tak 31 jaar vier, sonder om die ontstaan van die tak onder oë te neem? Die vroue wat huidige Acqua-lede oor soveel jare vooruitgegaan het, het diep spore gelos. Hulle het die pad gebaan vir ‘n vriendekring van dinamiese vroue wat steeds ‘n verskil in die gemeenskap maak.

 

mms_img-1872536382

Suzette en Celeste klink ‘n SPRINGBOKKIE (wat anders?) op Acqua se 31 jaar.

 

Dit was nie net ‘n aand van lag en gesels, pret en vrolikheid nie. Ons as vroue gee so baie en so maklik, maar êrens moet die kruik weer gevul word. As vrou, Ma, suster, dogter en vriendin draai die reserwes mos partykeer net so regs van nul. ‘n Aand by die VLV is nét wat elke vrou nodig het om inspirasie te kry en haar reserwes aan te vul. By hierdie geleentheid was dit aan die voete van gasspreker, Marinda Potgieter. Sy het ons herinner dat ons soveel meer is as al die rolle wat ons vertolk, soveel meer as die name of titels waaraan ons geken word en beslis baie meer as waarvoor ons onsself krediet gee.

 

Daar lê ‘n nuwe jaar vir Acqua voor. ‘n Bestaansjaar en ‘n VLV-jaar wat nét voorspoed, verryking en sommer baie nuwe lede sal inhou. Heppie, heppie Kwa-Kwa!