Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Portefeulje: Kunste & Handvlyt, Leefstyl
Beriggewer: Mette Kromhout
Datum: 14 Oktober 2015
Tydens die Oktobervergadering het die klem op kreatiwiteit geval.
Die kreatiewe Anelia Vorster, voormalige kunsdosent, het by elke uitrusting treffende “juwele” gemaak uit enige moontlike afvalmateriaal. Met vaardige hande het sy strokies materiaal en papier gevou en gerol om nie net blomme nie, maar ook kettings en stringe krale te laat word. Nadat haar papierkrale met naellak vernis is, is dit nie te onderskei van porseleinkrale nie! Van oorskietmateriaal en kraletjies maak sy die mooiste oorkrabbetjies. Die geheim is die afwisseling van teksture, vorms en kleure.
Anelia Vorster demonstreer die maak van juwele.
Luzanne Retief demonstreer die maak van lapblomme met hessianstroke en gom en voor die aanwesiges se oë ontstaan die mooiste rose. Hulle is so treffend dat groot rangskikkings en selfs bruidsruikers daarmee gemaak kan word. Deur verskillende soorte papier soos dié van ou patrone, telefoonboeke se geel bladsye of landbouweekblaaie te gebruik, kan ‘n groot verskeidenheid blomme gemaak word.
Hannelize van Heerden het ‘n skouhandleiding van 1938 aan die lede voorgehou. Destyds kon tien soorte seep ingeskryf word! Onderskeid is tussen Jersey- en ander botter getref en bruin eiers was in ‘n kategorie van hulle eie. By konfyt is tussen heel-vrugkonfyt en fyngekookte vrugte en jam onderskei. Die dames van destyds het nie vir die maak van blazers of hoede teruggedeins nie en het onderskei tussen oggendrokke, namiddagdrag en deftige tabberds. Dit was baie interessant om te besef hoe die lewe van ‘n boervrou in 78 jaar verander het. Natuurlik beskik die hedendaagse vrou oor baie tegnologiese en digitale vaardighede waarvan daar in 1938 nog nie eens gedroom is nie.
Leave A Comment