Sirkel: Paarl

Tak: Malmesbury

Studierigting: Leefstyl

Beriggewer: Mia Louw

Datum: 14 Oktober 2015

 

Malmesbury se buurdorp Darling het alles. Wyn, heerlike kos, bier, baie om te doen soos bv. Tannie Evita se Perron en nog vele meer vermaak. Maar daar was een leemte, iets soet! En dis toe dat Darling Sweet begin is, om die verruklike toffies te maak van plaaslike bestanddele soos regte botter waarvoor Darling en sy bottermuseum alom bekend is. Granaatpitte van die Darling omgewing, suurvye van die Weskus, self ‘n toffie met wyn van ‘n plaaslike wynkelder word gemaak.

 

Ons VLV-lede het die geleentheid gekry om elke een van die reeks van 7 toffiegeure te proe terwyl Frits van Darling Sweet vir ons vertel van hulle reeks toffies, hoe die besigheid begin is, hoe hulle personeel oplei en produkontwikkeling doen en dat selfs die sellofaan waarin die toffies toegedraai is, bioafbreekbaar is.

 

Darling sweet

LNR Lillebeth Slabber, Leefstylsameroeper, Frits van Darling Sweet en Helena Visser, Tesourier van Malmesbury VLV

 

Ons het ook meer geleer oor hoe om kos te dehidreer met behulp van die Ezidri Dehydrator. Om kos te dehidreer, oftewel kos uit te droog teen lae temperature word veral deur die Raw Food beweging gebruik. Om jou oond te gebruik is nie altyd prakties nie omdat dit moeilik is om ‘n konstante lae temperatuur te hou en lugbeweging is ook belangrik.

 

Driekie Bester het vir ons kom wys en laat proe aan die verskeidenheid vrugte en groente wat sy droog vir haar gesin. Van die oorvloed aarbeie in haar tuin maak sy ‘n aarbeivrugterol. Wanneer sekere vrugte volop en redelik goedkoop is in die winkels, maak sy gedroogde pynappel- en appelringe.

 

Ons het ook gedroogde uieringe met ‘n neutelagie geproe. Heerlik.

Geen preserveermiddels, geen suiker bygevoeg.

www.faithful-to-nature.co.za