Sirkel: Weskus
Tak: Moorreesburg
Beriggewer: Martelize Britz
Datum: 14 Oktober 2015
Dit was sowaar ‘n interessante en leersame oggend. Die Bestuur was die gasvroue en het eerstens die Gr. 4 spreekkoor van Laerskool Dirkie Uys voorgestel. Hulle pittige sêgoed is terdeë geniet. Hulle het cum laude verwerf en was ook die streek se bekerwenner in die Gr. 4 – 7 afdeling. D.w.s. die beste spreekkoor by die Wes-Boland Eisteddfod vir Gr. 4 – 7.
Die fotograaf, Hesmarie Nel, was volgende aan die beurt. Sy het interessante idees gegee oor hoe om kos af te neem. Jy moet bv. kyk waar die lig vandaan kom en ‘n wit agtergrond agter sit om skaduwees te beperk. Agter moet jy ook skoon, oop lyne hê. Saam met die kos moet jy tekstuur inbring en die kos moet verkieslik op ‘n wit bord wees. ‘n Mens neem gewoonlik een porsie af. Verder is die perspektief ook baie belangrik, bv. van waar die foto geneem word. Soos van bo af of van die kant af ens. Nog ‘n fotograaf, Ghida Visser, het ook haar werk kom wys.
Hesmarie Nel
Huritha Visser het kom vertel van scrapbooking en die maak van kaartjies. Sy het gedemonstreer hoe om dimensie te verkry op ‘n kaartjie en sommer vinnig gewys hoe om ‘n besondere kaartjie te maak.
Huritha Visser
Volgende aan die beurt was Philna Visser. Sy het ‘n maklike biltongvoorgereg kom demonstreer wat met gekoopte blaardeeg, biltong, kaas, eiers, en room gemaak word. Heerlik en vinnig!
Philna Visser
Die interessante potpourri vergadering is afgesluit deur Martie du Plooy wat self trapklippe met sement en versierings maak! Sy het vertel dat enige geskikte plastiekhouer hiervoor gebruik kan word. Eerstens smeer jy die houer met ou kookolie. Dan plak jy jou teëltjies onderstebo onder met wondergom vas, dan gooi jy die sementmengsel bo-oor en laat dit goed droog raak. Pragtige trapklippe!
Martie du Plooy
Daar was dus iets vir almal in hierdie vergadering.
Leave A Comment