Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Petrusville

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Beriggewer: Alta Waldeck

Datum: 13 Oktober 2015

 

Oktober se vergadering het gefokus op die senior burgers in ons gemeenskap. Elke lid moes ‘n senior burger saambring na die vergadering.

 

Ds. Pieter Coetzer het gepraat oor hoe ‘n mens jou gereed moet maak vir jou oudag. Benewens finansiële beplanning is dit baie belangrik om ook geestelik voor te berei en seker te maak dat jy Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker aanvaar. Daar moet ook voorbereidings getref word vir die dood wat onvermydelik is. Laat jou naasbestaandes weet wat jou wense is as jy die dag sterf – verassing of begrafnis? Hoe moet die begrafnisdiens of gedenkdiens verloop? Maak ook seker dat jou dokumente, soos testament en polisse, in orde is.

 

Ina van der Walt het praktiese wenke gegee oor hoe om oorskietkos in smaaklike geregte om te tower, omdat persone wat alleen woon geneig is om nie meer moeite met etes te doen nie en maar net elke keer ‘n broodjie smeer. Kook twee keer ‘n week ‘n ordentlike bord kos en verwerk die oorskiet vir die res van die week. Gebalanseerde etes is noodsaaklik vir bejaardes.

 

René Bredenkamp, ‘n fisioterapeut, het die belangrikheid van oefening in jou goue jare beklemtoon. Om jou spiere soepel te hou verhoog jou lewenskwaliteit. Sy demonstreer ‘n paar oefeninge wat jy elke dag in jou eie tyd tuis kan doen om soepel te bly. “Move – don’t ever stop moving!”

 

Suster Yolandi Posthumus het gepraat oor gehoorverlies. Veroudering bring natuurlike gehoorverlies mee, maar daar is ook ander faktore wat gehoorverlies veroorsaak. Gedurige blootstelling aan geraas, was in die ore, siekte, medikasie en oorerflikheid kan ook gehoorverlies meebring. Sekere waarskuwingstekens dui op gehoorverlies: kan nie mooi hoor as iemand normaalweg met jou praat nie, sukkel om te hoor met geraas, bv. ‘n grassnyer in die agtergrond, stel die TV baie hard, moeilik om ’n gesprek oor die telefoon te hoor en hoor nie alledaagse geluide, soos ‘n druppende kraan of  ‘n mikrogolfoond nie. Dikwels “hoor” mens die aanhoudende geskree van ‘n sonbesie wat ook gehoorkwaliteit beïnvloed. Die dronk gevoel wat baie persone ervaar kan ook dui op gehoorverlies omdat balans en gehoor  in die ore gesetel is. Sy gee ook wenke oor die dra van ‘n gehoorapparaat en hoe dit versorg moet word omdat dit ‘n baie duur toestel is.

 

Marthie Coetzer, Alta Waldeck (beriggewer), Rene Bredenkamp (spreker), Rouxle van Deventer (musiek), Frances Herholdt (voorsitter), Ds Pieter Coetzer (s

LNR Marthie Coetzer, Alta Waldeck (beriggewer), René Bredenkamp (spreker), Rouxlé van Deventer (musiek), Frances Herholdt (voorsitter), Ds Pieter Coetzer (spreker)