Sirkel: Cradock

Tak: Hofmeyr

Portefeulje: Kunste & Handvlyt

Beriggewer: Teresa Opperman

Datum: 12 Oktober 2015

 

Tydens haar beurt het kunssameroepster, Anneke Wilken, ‘n sak vol skêre en pakke eierdose saamgebring vergadering toe.  Sy het ook op die groot skerm ‘n video vertoon om die dames te leer om blomme te maak uit papierpulp gemaak van eierdose.

 

‘n Paar gompistole is ook nadergetrek, en kort oor lank was elkeen, van 4 jariges tot 90 jariges, druk besig om blomme te vou, te plak, te rol en te spuitverf.  Geselliger kon dit nie. Kort voor lank, soos die projek suksesvol gevorder het, het ‘n hele hoek van die voorsitterstafel gespog met rosies, varkore, affodille en peonies in alle kleure. Die uitdaging gaan hand aan hand met die Kunste & Handvlyt Kongresartikel vir 2016, waar ‘n tafelkrans met papierpulp eierdoosblomme versoek word.

 

okt vlv1

Lexi Fourie is ook druk besig om blommetjies uit eierdose te maak nadat Anneke Wilken dit aan die dames demonstreer het.

 

okt vlv

Nadat Anneke Wilken (Kunssameroepster) die blomme uit eierdose demonstreer het, het dames die vrymoedigheid geneem om almal self deel te neem. LNR Ria Jansen,  Rika Pienaar kyk, Annerien van der Merwe en Isabel Wilken

 

003

Susan Vermaak en kleindogter, Su-Anné, druk besig om blommetjies te maak uit eierdosies.

 

Hierna was dit die hoogtepunt van die VLV-jaar met die prysuitdeling op takvlak.  Slegs 2 lede kon hierdie jaar spog met 100% bywoning, namens Esta Jansen en Alicia Jansen. Diensknopies is toegeken aan Esta Jansen en Anne Nel (30 jaar), Rika Pienaar en Sylvia Buys (20 jaar), Avice Steenkamp (10 jaar).

 

Deelnemers aan takkompetisies het ywerig meegeding om die trofeë. Trofeë vir Naaldwerk, Kookkuns, Landbou, Kuns, en Iets uit Niets is almal aan  Susan Vermaak oorhandig. Sy het ‘n totale oormag bereik met die punte wat sy deur die jaar ingeoes het.  In die afdeling vir Tuiswerk het hulpsekretaresse, Alicia Jansen, skoonskip gemaak en ook in die Blomme-afdeling. Susan Vermaak ontvang die trofee as lid wat die meeste punte verdien het met takkompetisies.

 

009

Pryswenners is van agter LNR:  Elmien Downey, Isabel Wilken, Rika Pienaar, Annerien van der Merwe, Esta Jansen, Alicia Jansen, Adelé Vermaak

Voor:  Dadda de Jager (Voorsitter), Mariska Traut, Susan Vermaak & Anneke Wilken

 

Die Erelid van VLV-Hofmeyr vir 2015 toekenning word hierdie jaar gegee aan Estelle Kruger.  Estelle is ‘n voorslag. Behalwe dat sy al vir jare taksekretaresse en tesourier is, het sy ook Kongres bygewoon. Sy was behulpsaam met die Konferensie in Cradock wat oor 3 dae gestrek het. Estelle was betrokke by die werksaamhede voor en na Kongres te Cradock. Sy het die VLV-stalletjies beman en ywerig pannekoek gebak tydens die Hofmeyr Skou en ook by die vendusie stalletjies.  Niks is ooit vir haar te veel moeite nie. Estelle het ‘n ogie gehou oor kompetisie-artikels wat by haar afgelewer is; sy is betrokke by die hekel en brei van komberse vir die tak se gemeenskapsprojek en sy het ook truie gebrei vir die projek waar die tak truie aan die plaaslike skool geskenk het.  Sy het vir jare die finansies van die tak met ‘n ysterhand (en oog) bestuur. Estelle is vir elke VLV- lid ‘n voorbeeld en ons eer haar daarvoor.

 

Die VLV-bybel word hierdie jaar aan Anne Nel oorhandig, wat vroeër vanjaar die nuus ontvang het dat sy besig is om blind te word. Anne versorg ook haar 90 jarige moeder en dit was vir haar ‘n groot skok.

 

007

Alicia (links) en Ria Jansen (regs) steek die kerse aan vir die WBPV. Hulle is Hofmeyr se jongste lede en hou die tak se naam hoog!

 

Die takvoorsitter, Dadda de Jager, het al die lede, die Bestuur, die Beoordelaars,  dames wat die marktafel bedryf, die verslaggewer en Elsie wat elke maand ons koppies was en die stoele regsit bedank.

 

okt vlv2

Rika Pienaar (Sirkelpresident en Visevoorsitter) vertoon die pragboek, Kontreikos, wat deur VLVK aan Hofmeyr tak geskenk is.