Tak: Kleinmond

Sirkel: Overberg

Portefeulje: Opvoeding&Kultuur

Beriggewer: Hermien van Zyl

Datum: 29 September 2015

 

Louisa Beyer van die Biolink-Konsentrasiesentrum op Hermanus, was die gasspreker by die Septembervergadering, aangebied deur die dames van die portefeulje Opvoeding&Kultuur. Hierdie is die enigste maatskappy in Suid-Afrika waar ‘n unieke kombinasie van oefeninge aangebied word om konsentrasievermoë, aandagspan, ruimtelike geheue, ens te verbeter.

 

DSCN3726 (Custom)

l.n.r. Marianne de Wet, Melene Weyers (saamroeper Opvoeding&Kultuur) en Louisa Beyer (spreker) met plakkate ter toeligting van die praatjie

 

Elke mens word gebore met breinselle gelyk aan die 80 – 100 biljoen sterre in die melkweg. Die brein is slegs 2.5% van ‘n mens se liggaamsgewig, maar gebruik 20% van die energie van die liggaam. Daarom moet na die brein se behoeftes in dieselfde mate omgesien word as na die behoeftes van die liggaam, want dit degenereer en krimp soos die res van die liggaam a.g.v. veroudering.

 

M.b.v. ‘n power point-aanbieding het me Beyers die werking van die brein verduidelik. Die brein het die vermoë om aan te pas – bekend as neuroplastisiteit – om nuwe paadjies te volg wanneer die mens iets anders of iets stimulerends doen. Aan oorerflikheid kan ons niks doen nie, maar daar is beslis ander maniere waarop ons vir ons brein kan sorg.

 

1  Ons kan risikofaktore m.b.t. die brein beperk. Beskerm jou kop/skedel teen kopstampe deur, wanneer jy bestuur, jou veiligheidsgordel te dra. Vermy gladde glyplekke. Waak teen inflammasie en hormonale wanbalans en kyk na serebrovaskulêre gesondheid. In lg geval moet ons kyk na  cholesterol, hipertensie, diabetes en vetsug sodat die bloedvate gesond sal bly om genoeg suurstof na die brein te vervoer.

 

2  Ons kan die brein verskerp met gesonde eetgewoontes. Gesonde olies en omega 3-aanvullings voed die brein, 250ml water per dag vul die breinvog aan en deur witmeel, te veel alkohol en suiker te vermy, keer ons dat die brein verouder. Wanneer die liggaam geoefen word, kry die brein meer suurstof (doen veral gewigdraende oefeninge wat goedvoel-hormone vrystel). Slaap genoeg: agt uur slaap, min of meer dieselfde tyd. Laat rus die brein met ‘n vinnige cat nap of luister rustige klassieke musiek vir 5 – 10 minute gedurende die dag.

 

3  Jy kan jou denke en woordvaardigheid versterk. Lees soveel as wat jy kan. Vergroot jou woordeskat deur blokkiesraaisels in te vul of ‘n nuwe taal aan te leer. Skryf iets. As jy TV kyk, moenie net by die sepies vashaak nie, kyk aktuele programme ook. Speel rekenaarspeletjies en skakel by ‘n groep in wat bv brug speel, of iets anders wat jou uitdaag.

 

4  Pas jou brein op deur nie in negatiwiteit te verval nie. Stres vernietig breinselle. Lig jou gemoed, wees positief, kreatief, verbeter jou gedagtes, verwerk hartseer, vergewe.

 

12049674_10153944130787580_8902242987410942965_n (Custom)

Talentvolle Emma-Me Grobler, Gr 5-leerder van Laerskool Kleinmond, het die gehoor in die holte van haar hand gehad met haar voordrag Susara kla, deur Alda Troskie Viviers. Hier staan sy by Ninnie du Toit, voorsitter (sittend) en Marietta Serdyn, agter.

 

 

Dit is ‘n bewese feit: hoe meer breinaktiwiteit daar is, hoe meer gereeld en hoe meer kompleks daardie breinaktiwiteit, hoe laer die risiko van breinveroudering.

 

DSCN3727 (Custom)

‘n Uitstalling van die kunswerke van die Krappies&Krefies-kleuterskool het groot waardering van die oumas uitgelok.

 

DSCN3729 (Custom)

Takkompetisie: ‘n Rangskikkings in ‘n ongewone houer. In die middel is die wenrangskikking van Daphne Loots.