MANNE UITSTAPPIE: 2015

 

Wat is ‘n vrou tog sonder ‘n man (net vir die getroudes natuurlik). Daarom word ons manne nie vergeet as dit by kongresbeplanning kom nie.  ‘n Volle dag se uitstappies is altyd op die spyskaart.

 

So was dit vanjaar weer.  Reeds vroeg in die jaar is ons name ingestuur, en nie lank daarna nie kon ons verneem waarheen ons vir die Woensdag  ontvoer  sou word(dit  voel so amper of die vroue bang is ons sal hul dag bederf met ons teenwoordigheid by hul kongreslokaal, of wil hulle bewys dat hul sonder ons vir ‘n dag kan klaarkom?)

 

Die vorige dag verneem ons manne ondermekaar wie gaan die uitstappie meemaaak. Vroeg die volgende more wag ons by die skool se hek in ons motors en uiteindelik kan ons ons motors binne parkeer. Kouerig, maar opgewonde staan ons in groepies bymekaar. Ons  begeleier, ‘n dame (nie van die verleier tipe nie), doen ‘n roll call en ‘n paar name makeer, maar gou word verklaar waar hulle is.

 

Rooibus foto (Custom) (2)

 

En skielik, met ‘n geraas, doem ‘n rooi dubbeldekker bus uit toeka se dae op en stop buite die hek. “Is dit ons bus”  word gefluister. Nog nooit was dit die tipe vervoer vir die manne nie. Nou ja, staan dan maar nader na die hek. Eers word inspeksie van die bus gedoen en sy word soos ‘n vrouemodel  beoordeel. En die manne kies hul sitplekke…..fikses op met die trap na die boonste dek en die kierieklas  en ander onderste dek. Die enjin ref en daar gaat ons…..stadig en statig. Die medebestuurder is ‘n swart brakkie, wat  langs die drywer by die venster uithang.

 

Op die ooppad na Marlow Skool bespiegel die manne hoeveel die bus nou loop. Sommiges meen stadiger as hul trekkers op die plaas, en ander sệ hul sal die bus maklik van agter af inhardloop. Spoedig word daar oor ander dinge gepraat en na die omgewing gekyk. En daar stop ons voor die skool se hek, veilig aangekom.

 

Tyd dryf ons om nie te lank al die aktiwiteite te aanskou nie, en ons bestyg weer die bus……en ons wag, w-a-g, en uiteindelik daag die drywer op. Rustig terug en later op ‘n nuwe roete en daar stop ons by die voӫlboerdery.  Bekendstel, verduidelik, vrae, en toe besoek ons die hokke. Pragtige voӫls, verskeie eksotiese soorte en raserig in hul hokke(net bly my vrou het nie so ‘n skril stem soos hierdie wyfies in ons slaapkamer nie).

 

Na ‘n gespook om die bus om te draai, mos nie kragstuur nie, ry ons weer. Nou dorp toe om te gaan brekfis. Pragtige ou hotel. Aansit en weglệ aan die heerlikste ontbyt in ‘n lang tyd. Tweede skeppe vir party, tuisgebakte brood en koffie ook ingesluit in die prys.

 

Weer bus toe. En daar is een man weg. Gaan soek, maar kry hom nệrens. Gelukkig dis in die dorp, hy sal darem sy  woonplek kry as hy vergeet is.

 

Nou ander windrigting in en op die lang afdraand is ons bekommerd of die brieke werk. Ons is langsaam op gelyke grond en draai by ‘n nuutgeboude lokaal in. Groet, nooi in en daar is ons tussen die  bewoners van die veld. Gelukkig darem dood, want ‘n leeu byt mos dood. En wat ‘n mooi opgestopte (of is dit getaksidermeerde) leeu staan daar gereed vir spring. En ‘n frats daarby….is dit ‘n hy of ‘n sy? Sekere opsigtelike “tools” ontbreek. Sy het versteurde hormone, en kry toe ook maanhare , of so iets. Die werkers is kundig met die verwerking van die velle en die bou van lywe vir die velle.

 

‘n Spanfoto word langs die bus geneem (mens sou sweer ons is vir die Springbokspan gekies) en daar gaan ons weer na die laaste besoekpunt van die dag. In die dorp staan daar toe ‘n sestal ou motors in die straat. Groet, naderstap, rondom stap. Die motors word soos skouperde / beeste /skape beoordeel. Die Jaguar word gestart, maar dit dit brul nie vreeslik nie. Sy is net ‘n statige ou dame. Maar in die agterkant van die woning is daar vir jou ou motors, almal weer in hul glorie van ouds getooi. Meer mooi -en bewonderingsaanmerkings is oor die ou motors gemaak as oor ‘n vrou met ‘n nuwe rok of hoed, daarvan is ek seker. En weer eet ons, heerlike verversings, skoon vergeet dat ons nog die aand braaivleis op Blomfontein moet gaan nuttig.

 

Gou-gou is ons by ons vertrekpunt. Afgeklim en reguit na ons motors toe. Iemand se bottel wyn het  in die straat geval en toe ryk jy net suurwyn.

 

Dankie begeleier- dame, organiseerders en sommer al ons VLV vroue vir ‘n weereens lekker leersame uitstappie. Moenie van ons vergeet by volgende jaar se kongres nie.

 

Beriggewer:  Frans Swanepoel