Sirkel:  Kalahari

Tak:  Mimosa

Portefeulje:  Openbare Sake

Beriggewer:  E Linde

Datum:  15 September 2105

 

Een van Mimosa se lede, Helmine en haar eggenote Hasie Haasbroek, is sowat  3 maande gelede op hul plaas in die distrik Vryburg aangeval.  Die voorval het ongeveer 9 uur die aand plaasgevind. Hul honde het voor die sitkamervenster geslaap en is vermoedelik bedwelmd gewees toe die voorval gebeur het. Twee burgers van Lesotho het groot bakstene deur die sitkamervenster gegooi en was feitlik onmiddellik in hul slaapkamer. Die egpaar is baie hardhandig behandel en is vasgebind. Albei is erg mishandel en Hasie is herhaaldelik met ‘n skaapskêr in die rug en oral gesteek.

 

Helmine het die dames van Mimosal VLV op Louwna kom toespreek oor wat gebeur na so plaasaanval….

 

Sy het eerstens genoem dat mens kalm moet bly en toegee aan die eise, want sodra hul teengegaan word, kan mens met jou lewe boet.

 

Na ongeveer drie en ‘n half uur se marteling het die boosdoeners te voet gevlug. Hasie kon hom loswoel en het sy vrou te hulp gesnel. Al die selfone is gesteel, gevolglik kon hul niemand bel. Gelukkig het hul nog ‘n ander landlyn foon gehad en kon hul die naaste bure ontbied.

 

Toe die polisie opdaag moes die egpaar ‘n verklaring aflê. Die polisie beamptes wat die verklaring afneem verstaan nie Engels goed nie, daarom stel Helmine voor dat mens jou verklaring self in Engels skryf en sommer ‘n paar fotostate daarvan maak. Dan hoef mens nie elke keer te probeer onthou wat gebeur het en bespoedig dit die herstelproses.

 

Die polisie het lank geneem om op te daag, maar het hul werk baie goed en professioneel gedoen.

 

Daar is 5 groepe wat na jou kom na so aanval:

Plaaslike Polisie

Plaasaanval eenheid

Hondemeester

Eenheid vir gesigtekening vir uitkenning

Forensies

 

Laasgenoemde het met ‘n tas vol gekleurde poeiers gekom en vir elke oppervlakte ‘n ander kleur poeier gebruik om die vingerafdrukke te lig. Die boosdoenders het sigaretstompies in die huis gelaat wat baie waardevol was vir DNA toetse.

 

Hul plaaswerkers en Maseka Pofo het gehelp dat die aanvallers so teen 11 uur die volgende oggend aangekeer is. Die hondemeester het m.b.v die honde die spoor gekry dan hardloop Maseka Pofo se mense op die spoor. Groot was die vreugde onder die polisie toe die boodskap deurkom dat die aanvallers aangekeer is.

 

Al die groepe polisielede moes in die Haasbroek egpaar se huis ‘n plekkie vind om aan die ondersoek te werk. Hul is deurentyd  met koffie en tee bedien en etes is aan hul almal verskaf aangesien daar geen plek naby is om kos te koop.  Die bevelvoerder van Ganeysa het later geskakel om die egpaar te bedank vir die wonderlike manier waarop die polisie personeel behandel is. Dit het ook bygedra om die saak baie spoedig af te handel.

 

Die aanvallers kom binne 48 uur voor waarin hul aansoek moet doen vir borg. In hierdie geval is dit geweier omdat hul onwettige immigrante van Lesotho is. Hul het gevra vir regsverteenwoordiging wat nie geweier mag word nie. Hul het toe ‘n pleitooreenkoms aangegaan vir 8 jaar. Die landdros het gevoel dis te min en het hul gevonnis vir 14 jaar, 4 jaar opgeskort en geen parool. Hul gevangenisskap is dus 10 jaar. Hul het skuldig gepleit op die aftrek van die sneller van die geweer wat toe nie afgegaan het, vir betasting van die vrou, het nie reg gehad om vuurwapen te hanteer en die steek van die man met die skaapskêr.

 

Hasie moes namens die egpaar gaan en moes getuig of hul tevrede is met die pleitooreenkoms anders kan die verhoor 2 tot 3 jaar duur.

 

Die egpaar het reeds die Maandag ‘n sielkundige gaan sien. Helmine het genoem dat die voorval 20 jaar by haar lewensjare gevoel het, waarop die sielkundige haar geantwoord het dat dit haar keuse is om die goeie of die slegte uit die voorval te neem. Dis egter hul keuse.

 

IMG_5769

Biffie de wet en Helmine Haasbroek