Sirkel: Namakwaland

Tak: Hantam

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Janine Brynard

Datum: 13 September 2015

 

Dit bly maar ‘n groot lekkerte om ‘n Hantam lamstjoppie op die kole te gooi, want beter vleis gaan jy nie sommer kry nie!  Maar wie van ons dink aan waar daardie lekker tjoppie vandaan kom en deur watter proses dit is voor dit op jou rooster beland?

 
Tydens Hantam VLV se Landbou & Tuinbouvergadering, onder leiding van Ilizna van Schalkwyk, het die dames die geleentheid gekry om te sien hoe ‘n abattoir van binne lyk en werk.  KLK Calvinia se Ramskop Abattoir is besoek onder die uiters bekwame toerleiding van die bestuurder, Jolandi Visagie.

 

Wetgewing bepaal dat ‘n Abattoir aan baie streng regulasies moet voldoen, waaronder die koueketting ‘n baie belangrike komponent beslaan. Vandat die dier geslag word, deurgaan die karkas vele prosesse. Die slagproses behels dat die diere verlam word deur ‘n elektriese impuls, sodat geen pyn gevoel word nie.  Die kop word dan verwyder en terwyl die karkas ten volle uitbloei in ‘n bloedbad, word die karkas geklassifiseer volgens ouderdom.  Dit word bepaal deur na die tande te kyk. Die kop kry dan ‘n unieke merker aan, wat verbind word met die karkas. Indien enige navrae later kon ontstaan, kan elke karkas se inligting nagespoor word.

 

Hierna, word die velle en binnegoed van die karkasse verwyder deur gedeeltelike meganiese hantering.  Die onderskeie personeellede het elkeen hier ‘n baie belangrike rol te speel en werk elkeen saam om die proses so vinnig en glad moontlik te laat verloop.  Net voordat die karkasse die eerste proses van verkoeling ondergaan, word dit gegradeer deur na die vetgehalte te kyk.  Elke karkas word dan in die stelsel gevoer en van ‘n elektroniese kaartjie voorsien – weereens sodat dit teruggespoor kan word tot op die spesifieke plaas, boer en selfs vragmotor waarmee dit vervoer is.

 

Die ideale en aanvaarbare temperatuur waarin ‘n karkas geberg moet word, totdat dit vervoer word na die groot- en kleinhandelaar, is 7ºC. By hierdie temperatuur kan die vleis langer vars gehou word. Om hierdie rede is die wetgewing dus baie streng, veral om die verbruiker te beskerm.

 

Ramskop Abattoir is geregistreer om 600 diere per dag te slag. Tydens ‘n besoek aan dié slagpale kan ‘n mens gou sien:  hierdie is ‘n toegewyde span, wat elke dag hul taak soos ‘n goed geoliede masjien doen om te verseker dat die vleisafdelings in die winkels se voorraad genoeg is, sodat ons braairoosters kan vol bly. Knap gedaan!

 

ramskop

Tydens Hantam VLV se Landbou & Tuinbouvergadering het die dames op ‘n uitstappie na KLK se Ramskop Abattoir gegaan. Dit was baie interessant om te sien watter prosesse ‘n karkas ondergaan, totdat dit gereed is om na die groot- en kleinhandelaars vervoer te word. Op die foto verskyn van links Jolandi Visagie, bestuurder van die slagpale, Janine Brynard, Kirsten Fourie, Ena van Schalkwyk en Ilizna van Schalkwyk van Hantam VLV.