Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Leefstyl

Datum: 25 Augustus 2015

Beriggewer: Hermien van Zyl

 

 

 

Met die VLV-maandvergadering op 25 Augustus, het die dames van die Leefstyl-portefeulje onder leiding van Annie Jooste, saamroeper vir die Naaldwerkafdeling van Leefstyl, ‘n vergadering aangebied so reg in die smaak van elke vrou. Rita Ferreira van Hermanus, ‘n begaafde vrou wat haar talente op baie terreine uitleef, is as gasspreker aan die gehoor voorgestel deur haar jarelange vriendin, Maria Whitehead. Die dames kon kennis maak met ‘n Bloemfonteinse stadsmeisie wat baie jare gelede met ‘n boer van Clocolan trou en op ‘n plaas beland waar sy met mieliestronke in ‘n Doverstofie moes vuurmaak. Daar is die saadjie geplant om die leefruimte om haar mooi te maak en vandag kan Rita Ferreira as gerekende binneversierder en tuisnaaldwerkster haar kennis met ander deel.

 

 

Daar is verskillende style waarop die tuisteskepper kan besluit om haar toe te spits wanneer dit by binneversiering kom: formeel, shabby-sjeik, aards of kothuisstyl. Maar daar moet nooit vergeet word dat binneversiering eintlik al buite die huis begin nie. ‘n Duidelik sigbare huisnommer en ‘n netjiese akkertjie of pot met blomme skep klaar al ‘n indruk dat die besoeker welkom is. ‘n Mooi voordeur in ‘n interessante kleur geverf, plakkers teen die muur, ‘n potplant of twee en selfs ‘n afdakkie of seiltjie teen die reën versterk ewe-eens die besoeker se verwagting van ‘n aangename kuier. En as daardie voordeur oopgaan, moet die voorportaal of gang wow! wees, interessant, iets sê van die mense wat daar woon. Indien mens direk in ‘n groot vertrek instap, moet probeer word om deur ‘n afskorting, of die meubelplasing, ‘n ontvangshoekie te skep. As die telefoon daar moet staan, maak die tafeltjie mooi, voorsien skryfbehoeftes, sit ‘n pot blomme daar en stal van jou mooi goed op ‘n rakkie uit.

 

 

Oral in die huis kan oud en nuut suksesvol gekombineer word, kan ‘n skildery as fokuspunt gebruik word om kleuraksente te bepaal of kan verskillende teksture ‘n monochromatiese kleurskema laat slaag. Akkommodeer die TV in die woonkamer/TV-kamer sò dat dit nie alles oorheers nie en as daar troeteldiere in die huis is, skep vir hulle ‘n area sodat alles nie vol honde- of kathare is nie. Persepsies oor binneversiering het so verander dat eenvormige stoele bv om die eettafel nie meer voorgeskryf word nie, meer kleur kan ingebring word vir mure en in die slaapkamer word die stapel kussings op die bed vervang met slegs een lang rolkussing. Ononderhandelbaar is ‘n netjiese, skoon gastebadkamer/toilet met die nodige geurgoedjies, skoon handdoekies en blomme of slegs ‘n enkele langsteelblom in ‘n potjie.

 

 

Ninnie du Toit, voorsitter, het die onlangse Kongres van VLVK in Cradock bygewoon en het kortliks verslag gelewer. Sy is deur die taksekretaresse, Cecile Jonkheid, gelukgewens met die trofee wat tydens Kongres aan haar oorhandig is vir die derde plek wat sy in die wisselafdeling vir ‘n doilie in knoopwerk verwerf het.

 

 

Charlotte Potgieter het die item van die middag gelewer en beïndruk met ‘n pragtige klaviervertolking van ‘n Beethovenkomposisie.

 

 

DSCN3601 (Custom) (2)

V.l.n.r. Rita Ferreira(spreker), Maria Whitehead, Annie Jooste (saamroeper) en Charlotte Potgieter (klavierspeler).