Sirkel: SWD
Tak: Herbertsdale
Portefeulje: Landbou En Tuinbou
Beriggewer: Irma Muller
Datum: 25 Augustus 2015
Die groep VLV-dames van Herbertsdale vertrek na Ouland, ‘n plaas naby Mosselbaai,waar besoek afgelê word by Johan, Petro en hul seun, Jaco. Hulle is vis taksidermiste wat trofeevisse monteer. Eerstens word die yskoue vis se fyner/kleiner vinne versigtig afgesny, sodat dit apart gemonteer kan word. Die vis word dan binne-in ‘n dik laag nat gips gedruk, sodat elke fyn detail van die vis op die gips afgeëts kan word. Sodra die gips droog is, word ‘n ander laag nat gips bo-oor die vis gesmeer. Wanneer die gips droog is, word daar versigtig op die heglyn reg rondom gekap, sodat die twee helftes gips vanmekaar af kom. Die vis word uitgehaal en dan het hulle twee leë gipsafdrukke. Hierin bou hulle dan ‘n monteervis met glasvesel. Glasogies word ook geverf presies in die kleure van die oorspronklike vis se oog. Die klein vinne wat apart in gips gemonteer was, word op dieselfde manier met glasvesel gemaak en aan die gemonteerde vis geheg. Die fyn detail op die glasvesel vis is verstommend eg.
Versigtig word die vis uit die gips gelig.
Dan besoek die dames vir Professor Frederick De Jager, naby Gouritzmond, wie se stokperdjie dit is om broodbome te kweek. Hy het ‘n groot versameling van hierdie peperduur bome, en daar is baie verskillende bome. Hy vertel meer van die kweek van die bome: sommige is tweeslagtig en hy oes die stuifmeel van die manlike boom, en sodra die vroulike boom se keëls oopgaan, spuit hy die stuifmeel met ‘n blasinstrument, wat hy self ontwerp het, in die keels in. Ander soorte bome is net manlik, en hulle word gekweek deur die suiers wat uit hulle ontwikkel, af te haal en te plant. Die boom se waarde word bepaal deur sy skaarste, grootte en geslag. Hulle floreer in goed gedreineerde grond en wil son hê, alhoewel nie te veel son nie. Die bome word bewaar, en ‘n mens moet ‘n permit hê om een in jou tuin te plant. Hy het die dames in sy tonnel ingeneem waar hy duisende klein plantjies aan die groei kry.
Prof De Jager verduidelik entoesiasties, terwyl Suzanne Jonker en Emsie Marx geïnteresseerd luister.
Van die jongste saailinge.
Die tonnel met die klein plante.
Leave A Comment