Tak:  Prieska

Sirkel:  Noordwes-Kaap

Portefeulje:  Opvoeding en Kultuur

Beriggewer:  Erika Lubbe

Datum: 12 Augustus 2015

 

 

WENK: Karen Greyling (Taktesourier) gee 10 gebruike van tandepasta, behalwe om tande mee te borsel:

 

  • Vryf hoofligte tot skoon met tandepasta op ’n lappie, spoel af met water en poleer dan met ’n sagte lappie.
  • Vryf ’n klein bietjie tandepasta op jou brilglase in. Dit verhoed dat dit wasem en dit bedek ook klein skrapies.
  • Tandepasta (nie die jel-tipe nie) op ’n muskietbyt sal die gejeuk verlig en die rooiheid laat verdwyn.
  • Gebruik tandepasta en ’n ou tandeborsel om onder jou vingernaels te skrop as jy in die tuin gewerk of geverf het. As jy tandepasta gereeld vir 5 minute op jou naels los, kan dit ook jou vingernaels helder laat lyk.
  • Kry kougom uit jou hare deur tandepasta oor die kougom te vryf totdat die kougom opbreek.
  • Tandepasta werk uitstekend om die opbou van minerale op jou strykyster af te breek.
  • Tandepasta raak ontslae van lipstiffie, grasmerke, inkvlekke op klere, vloere of mure. Toets eers voor gebruik omdat tandepasta ’n blyk-effek kan hê.
  • Tandepasta sal ook ontslae raak van krytmerke op mure (of selfs ’n hele ‘kunswerk’ op die muur). Voer sirkelbewegings met tandepasta op ’n klam lap oor die kunswerk uit totdat al die merke verwyder is.
  • Skuurmerke en ligte skrape op leermeubels sal verdwyn as jy dit met ’n bietjie tandepasta op ’n sagte lappie vryf.
  • Tandepasta en ’n skropborsel sal klaarspeel met hardnekkige vlekke op plastiekmeubels.

 

 

V.l.n.r. Irene Coetzee (Saamroeper Landbou en Tuinbou), Fifi Bold (gas) en spreker Marelize de Villiers (Saamroeper Opvoeding en Kultuur) (Custom)

Irene Coetzee (Saamroeper Landbou en Tuinbou), Fifi Bold (gas) en spreker Marelize de Villiers (Saamroeper Opvoeding en Kultuur)

 

Doofheid-bewustheidsweek word van 30 Augustus tot 5 September gehou. Marelize de Villiers (Taksaamroeper Opvoeding en Kultuur) gee in die lig hiervan interessante feite oor die Dowe- gemeenskap.

 

  • Dowes word wêreldwyd beskou as ’n linguistiese minderheid met ’n eie kultuur. Dowes beskou hulself ook nie as gestrem nie.
  • Die Dowe-gemeenskap het sy eie taal, gebaretaal. In SA word die SASL (South African Sign Language) gebruik. Gebaretaal is nie universeel of internasionaal nie en het in verskillende lande ontwikkel.
  • Daar bestaan verskeie kulturele klubs, asook sportliggame vir Dowes – waaronder die Somerspele vir Dowes wat deel is van die Internasionale Komitee vir Sport vir Dowes (CISS).
  • In spansport, bv. rugby, netbal, sokker, krieket en vlugbal word ’n vlag i.p.v. ’n fluitjie gebruik.
  • Dowes gebruik vibrerende wekkers om mee wakker te word.
  • Klanksensors word in ’n baba se bed geplaas sodat die Dowe ma kan weet wanneer hy/sy huil.
  • Klank word gemeet in desibels (dB) en dit bepaal die graad van gehoorverlies.

 

 

Gehoorapparate

 

  • Agter die oor (veral geskik vir kinders omdat dit so duursaam is).
  • Binne-oor (gedra in die oorskulp en dit word individueel gevorm om te pas).
  • Intra-kanaal (baie klein, omdat dit nie sigbaar is nie).
  • Kogleêre inplantings.

 

 

Die 5 faktore wat doofheid laat ontstaan

 

  1. Langdurige blootstelling aan omgewingsgeraas: Omgewingsgeraasgeïnduseerde gehoorverlies is die mees algemene oorsaak vir sensorineurale doofheid. Blootstelling aan hoë vlakke van geraas (>70 dB) veroorsaak gehoorverlies. Blootstelling van langer as 2½ uur aan vlakke hoër as 90 dB kan permanente doofheid veroorsaak.
  2. Geneties: Doofheid kan oorerflik wees.
  3. Siektetoestande wat die oor aantas: Masels, Meningitis, Pampoentjies en Sifilis.
  4. Substansblootstelling: Fetale alkoholsindroom veroorsaak gehoorverlies in tot 64% van babas van alkoholafhanklike moeders. Sekere geneesmiddels, o.a. aspirien, anti-inflammatoriese middels en antibiotika.
  5. Fisiese trauma: Direkte trauma aan die ore self, of in die breinareas wat vir die prosessering van die klank verantwoordelik is; breinbeserings; blootstelling aan ’n enkele geval van ’n erge geluid.

 

Helen Keller het gesê: Blindheid sny ’n mens af van gevoel; doofheid sny ’n mens af van mense.