Sirkel:  Namakwaland

Tak: Hantam

Portefeulje:  Opvoeding en Kultuur

Beriggewer:  Janine Brynard

Datum:  24 Julie 2015

 

 

 

Elke dag neem ons 3 000 besluite.  Party besluite is moeiliker as ander en boonop beïnvloed ons emosies alle besluite.  Die belangrikste feit om te weet is dat ‘n enkele besluit die verskil tussen sukses en mislukking kan beteken.  Dit is hoekom dit so belangrik is om die régte besluit te neem.  Maar hoe dan?

 

Die bekende en beminde breinkundige in ons omgewing, Sonja Squires, het tydens Hantam VLV se Opvoeding en Kultuurvergadering verduidelik hoe die besluitnemingsproses werk.  Besluite is ‘n kognitiewe proses waartydens opsies en alternatiewe oorweeg word.  Ons lewe vandag in die Eeu van die brein:  alle inligting wat ons reeds ken, sal teen 2017 alreeds verdubbel!  So byvoorbeeld moet skoliere deur 10 keer meer volumes inligting werk as wat 30 jaar gelede die geval was.

 

Hoe werk ons breine?  ‘n Enkele breinsel is soos ‘n posman wat tot 50 000 briewe per minuut kan pos.  Jy het 100 biljoen posmannetjies.  Partykeer staak die posmannetjies agv siekte, swak voeding, stres, trauma of moegheid.  Dit beïnvloed jou vermoë om goeie besluite te neem.  Met nuwe inligting en selfs verandering, kan jy besluit of jy as oorwinnaar of slagoffer gaan uittree:  bestuur hoe jy dink en doen, of gee die mag van jou keuses aan ander of jou omstandighede.

 

Enige besluit bestaan uit die volgende:  ‘n Kanaal, wat bepaal word deur jou brein se regter- of linker dominansie en -fiksheid, ‘n Proses, hoe die inligting van jou dominante sintuie na jou dominante brein-deel gevoer word en die Gevolge – elke mens het voorkeure oor hoe om inligting te verwerk, maar gebruik uiteindelik sy/haar hele brein vir die finale besluitneming.

 

Wanneer spanning of trauma egter inskop, affekteer dit ons vermoë om alle inligting in te neem.  Negatiewe emosies, pessimisme, vrees en stres affekteer hoe ons breine rasionele versus emosionele besluite neem.  Stres verswak die gehalte van besluite, want inhiberende chemikalië veroorsaak dat sekere dele van die brein minder aktief inligting prosesseer.  Dit het gevolge vir watter tipe inligting jy kan inneem en waarop jy reageer.

 

Stres en trauma-gevolge impak die kanaal:  Party kan nie hoor wat gesê word nie, ander kan nie hoor wat gesien is nie, party kan nie doen nie, party kan nie onthou nie.

 

Die proses:  Jy skakel geleidelik af, jy het nie toegang tot sekere dele wat kon help, jy gaan in gewoontes in.  Gewoontes is ook ‘n besluit, maar jy maak dit nie aktief nie:  Jy het ‘n gewoonte gevorm en dus hardloop die brein op dominante paadjies, soos bv spierbewegings.

 

Keuses bepaal en slyp jou toekoms! Jy het dus die vryheid van keuse in jou hande, jou reaksie.  ‘n Gemiddelde mens dink gemiddeld 30 000 gedagtes per dag en maak 3 000 besluite waarvan die meeste gebasseer is op kondisionering of gewoonte.  Sorg dus dat jou gedagtes positiewe denke is:  Whether you think you can or you can’t – You are right.  (Henry Ford)