Sirkel:  Noord-Karoo

Tak:  Murraysburg

Portefeulje:  Gesondheid

Beriggewer:  Mette Kromhout

Datum:  22 Julie 2015

 

 

Tydens die Gesondheidsvergadering is die lede verras oor wat die gesondheidsdienste  in Murraysburg aanbied.

 

 

DSC02489

 

 

Theresa Troskie het eerstehandse kennis oor die dienste van die hospitaal en kliniek gaan inwin.  Sy het voorbeelde van gratis brosjures uitgedeel.  Dié brosjures handel onder andere oor koppievoeding vir babas,  sosiaal oordraagbare siektes en pasiënteregte.

 

 

Die bestuurder van die hospitaal en die kliniek is suster Mercia Rickerts ( Tel. 049 844 0053 / 049 844 0021).   Pasiënte moet by ontvangs aanmeld en word in drie strome verdeel:  diegene wat afsprake het, stap-in pasiënte en doktersafsprake wat by  ontvangs of telefonies  (049 844 0021)  gemaak word.

 

 

Die volgende dienste is beskikbaar:  primêre gesondheidsorg,  kindergesondheid,  jeuggesondheid,  TB-sifting,  geestesgesondheid,  vrouegesondheid,  HIV- vrywillige toetsing en berading en voorgeboortedienste waarvoor pasiënte so vroeg moontlik moet registreer.  Die maandelikse datums vir dieetkundige – en tandheelkundige dienste, fisioterapie en arbeidsterapie is by ontvangs beskikbaar.

 

 

Wanneer ‘n ambulans benodig word,  moet 112 met ‘n selfoon  (of 10177 landlyn)  geskakel en vir Beaufort-Wes gevra word.  Beaufort-Wes  gee dan opdrag dat ‘n ambulans uitgestuur word.  Nomathemba Cupido,  ondersteun deur Urena Blom,  verduidelik hoe die ambulanspersoneel pasiënte in noodgevalle  kan help.

 

 

Murraysburg se nooddienste beskik oor die dienste van drie vroue en sewe mans.  Dit was verblydend om die toewyding en trots van hierdie twee dames van die nooddienste op te merk.   Die VLV-lede kon die goedtoegeruste binneruimte van ‘n ambulans besigtig.

 

 

Troskie het die lede daarop gewys dat Augustus orgaanskenkingsmaand is.  Sy verskaf  antwoorde op belangrike vrae omtrent orgaanskening.  Die Stigting vir Orgaanskenkers kan tolvry by 0800 22 66 11 of by 021 426 0198 geskakel word.

 

 

Drie maatskaplike werkers het kantore in die Thusong-sentrum  ( Tel. 049- 844 0018) .  Hulle kan omtrent pleegsorg,  kinderbeskerming,  programme vir gestremdes,  verwysings na SASSA,  HIV-berading en  die dienssentrum,  programme en kosvoorsiening vir bejaardes inligting en hulp verleen.

 

 

Ten slotte vertel Troskie van die Suid-Afrikaners wat selfoontoepassings in die mediese veld ontwikkel het.  Rapido  ( Rapid Response)  is deur Marlize Holtzhausen ontwikkel om die slagoffers van misdaad of ‘n ongeluk in staat te stel om so vining moontlik met nooddienste te kan kommunikeer.  Die broers,  Malan en Philip Joubert,  het ‘n toepassing vir die stryd teen Ebola ontwikkel.

 

 

Anene Loots het met ‘n prettige voordrag oor ‘n spesifieke gesondheidsprobleem vir ‘n ligter noot gesorg.