Tak:  Prieska

Sirkel:   Noordwes-Kaap

Portefeulje:  Gesondheid

Beriggewer:  Erika Lubbe

Datum:  22Julie 2015

 

 

Erevoorsitter, Freda van Niekerk, het geopen met: “Brood uit my oond” deur Marjorie Parker.

 

 

Suster Francie Jacobs van die plaaslike Bill Pickard Hospitaal het die term: bloeddruk en ook die nadele en die faktore wat hoë bloeddruk veroorsaak verduidelik. Bloeddruk is die druk waardeur die bloed deur die are vloei. Spanning/stres, gebrek aan oefening, ’n verkeerde leefstyl, verkeerde eetgewoontes, bv. te veel sout in die dieet, is van die faktore wat hoë bloeddruk veroorsaak. Hoë bloeddruk is baie nadelig vir die gesondheid en veroorsaak o.a. hartaanvalle, beroertes, nierversaking en aneurismes. Verpleegster, Beatrice Botha, het die lede se bloeddruk gemeet.

 

 

Demonstrasie: Marié Kühn het demonstreer hoe om ’n serp met wol om jou arms met jou vingers te brei.

 

 

20150722_151940 (Custom)

Surietha Kotze; Landi de Beer, Visevoorsitter; Marié Kuhn, demonstratrise;  Freda van Niekerk, Erevoorsitter.

 

Pitkos: Karen Greyling se tema was: Dink reg, leef reg! Wetenskaplikes het vasgestel dat gedagtes nie bloot breinflitse is nie. Dit het ’n fisiese struktuur met ’n chemiese uitwerking op die liggaam. Dit is bewys dat meer as 85% van alle sielkundige skete in die gedagtewêreld ontstaan. Ons gedagtes/hoe ons dink bepaal ons fisiese sowel as ons geestelike optrede.

 

20150722_155651 (Custom)

Spreker en Taktesourier, Karen Greyling; Lulu van Wyk, Taksekretaris

 

Volgens wetenskaplikes lyk ons brein soos ’n woud met baie bome met ’n sagte chemiese reën wat daarop neersif. Hierdie bome word senuselle genoem en is met drade aanmekaar verbind – ongeveer 100 triljoen verbindinge in elke brein. As ’n tou daarvan gemaak kon word, sou dit maan toe en terug gespan kon word. Hoe meer ons dink, hoe meer takke groei uit daardie bome. As ons aan goeie dinge dink, ontstaan daar gesonde bome en as ons aan slegte dinge dink, ontstaan daar onooglike bome. Sonde laat onooglike bome ontwikkel en indien dit nie uitgeroei word nie, groei dit so welig dat dit die goeies versmoor.

 

 

Die belangrikste aspek van ons brein is dat God wel die elektromagnetiese aard van ons gedagtewêreld ge-skep het, maar Hy beheer dit nie vir ons nie. God het wel die aard van die gedagtewêreld geskep, maar die mens in beheer daarvan geplaas deur die vrye wil in die frontale lob van sy brein te plaas. Die DNA verskil hier van die res van die brein. Dit is die ’sterkste’ deel van die menslike anatomie, want dit het die vermoë om te kies deur besluite te neem – goeie besluite of slegte besluite.

 

 

Ons moet dus waak oor wat ons dink en moet negatiewe gedagtes vermy. ’n Siek gees kweek ’n siek liggaam en dit word psigosomatiese siektes genoem. Ons gedagtes bepaal dus ons optredes. Salomo sê in Spreuke 23:7: “….. want soos hy in sy siel bereken, so is hy….

 

 

Ons grootse stryd lê dus in ons kop. As ons wenners in hierdie stryd wil wees, moet ons weier dat Satan ons gedagtewêreld beset en belemmer. Ons moet ons brein skoonhou deur elke gedagte aan Jesus te onderwerp! Dink dus reg en leef gevolglik reg!