Sirkel:   Tygerberg

Tak:   Brackenfell

Portefeulje:   Openbare Sake

Beriggewer:  Lettie Van Wyk

Datum:  16 Julie 2015

 

Op ‘n baie koue wintersdag het 6 lede van Brackenfell die Bright Stars Kinderhawe in Kraaifontein gaan besoek.

 

IMG_1448 (Custom) (2)

 

Daar is engele wat onbaatsugtig alles gee vir hulle wat minderbevoorreg is, en in hierdie geval is die engele se name Pierre en Brenda Jooste.  Hulle word bedags gehelp deur twee dames, een wat die huis skoonmaak en een wat die wasgoed was.    Hulle het 15 jaar gelede begin om hawelose en weggegooide kindertjies in te neem en met liefde te versorg.   Die omheining buiteom is pragtig geverf met helderkleurige prentjies en as jy die hekkie oopmaak, word jy verwelkom deur ‘n mooi tuintjie met ‘n fonteintjie    Stapelbedjies staan in die kamers en in ‘n groot vertrek sit ‘n klompie netjiese kindertjies en TV kyk.   Hulle groet met stralende gesiggies en mens kry die indruk dat hier baie liefde maar ook dissipline is.

 

Brenda vertel dat hulle eintlik geregistreer is om 12 kinders te akkomodeer, maar op die oomblik is daar 30 kindertjies, wat elkeen  kos, klere en slaapplek kry.   Sy sê dat sy nie kan nee sê as ‘n polisieman met ‘n kindjie aan die hand of in die arms voor haar deur staan nie, en so groei die getalle net aan.  Hierdie kinders is almal weggegooi deur hul ma’s of op straat opgetel.   Met die hulp van vrywilliges, skenkings en baie gebede kom hulle die mas op.   Enige skenkings is welkom, veral kos.  Die ouderdomme wissel  maar die oudste seuntjie is 7 jaar en die oudste dogter is 15.   Skenkings van klere help dus ook baie.   Die wat groot genoeg is, gaan skooltoe en Sondae gaan hulle sondagskool toe.

 

Brackenfell  se skenking van nie-bederfbare kos, linnegoed, toiletware en klere sal darem ook help.

 

Met die uitkomslag, staan daar ‘n seuntjie voor die hekkie en Brenda sê hy kom vra sy broodjie wat sy gereeld vir hom gee.   Nie net die kindertjies in die huis word dus gehelp nie – enigeen in nood kom klop aan haar deur!

 

Die lede is oorweldig deur ‘n besef van groot nood wat een dag op ‘n slag hanteer word.   Pierre en Brenda  kan voorwaar bewonder word vir die groot werk wat hulle doen en saam met die kindertjies van Brights Stars elke dag aan ons Hemelse Vader opgedra word.