Sirkel: Overberg
Tak: Hermanus
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Diana Lambrechts
Datum: 8 Julie 2015
Groepie vroue van VLV Hermanus het hulle kennis rondom skilferkorsdeeg gaan opskerp. Louis van As het homself, en sy huis beskikbaar gestel vir die geleentheid.
Met die aankoms het elke dame ‘n kaartjie ontvang, met die resep vir sodawater skilferkorsdeeg, netjies daarin uitgetik. Volledige demonstrasie, met deurlopende kommentaar, is gegee vanaf stap een tot by die bak.
Gebruik yskaswater
Die uitrol van die deeg is baie belangrik, gee kort hale met die roller en lig jou deeg voortdurend. Die lig van die deeg help om lug in te sit en ook vir die krimping wanneer jy uitdruk.
Uitrol van deeg
Wenke en demonstrasie oor wat met die afvaldeeg gedoen kan word het gevolg. Doppies met die heerlikste vulsels is gebak. Deegstrooitjies besprinkel met growwesout en speserye was ‘n treffer. Die afvaldeeg kan ook in ‘n balletjie bewaar word en met die volgende bakdag gebruik word. Hierdie deeg word dan in die bodem van jou tertbak, onder die vulsel gebruik.
Deegstrooitjies
Besparingswenke soos om byvoorbeeld ‘n goeie margarien in die plek van duur botter en yskoue kraanwater in plaas van sodawater te gebruik word gegee.
Konfyttertjies moet jy bak sonder die konfyt en dan nadat dit effe afgekoel het, maak jy met ‘n skerp messie, ‘n snytjie en sit die konfyt in. Om die rand van jou melktert mooi geblaar te kry plaas ‘n ekstra reep deeg op die rand van jou bak voordat jy die groot deeg insit. As die ekstra deegreep onder die deeg is wys dit geen los rande nie.
Na afloop van die demonstrasie is daar heerlik gesmul aan die vooraf gebakte eetgoed.
Groepfoto saam met Louis van As
Dit was ‘n heerlike, leersame oggend. Dankie Louis.
Leave A Comment