Sirkel:   Namakwaland

Tak:    Vredendal

Portefeulje:  Opvoeding en Kultuur

Beriggewer:  A Beelders

Datum:  18 Junie 2015

 

Marietjie Nel, ‘n Geregistreerde Pastorale Terapeut het besoek gebring aan die VLV tak.   Sy is tans besig om die kursus  “Immergroen Ouerskap”  aan te bied.  Om kinders groot te maak is moeilik, ons as ouers probeer alles reg doen en op ‘n dag besef jy as ouer het ouerskap foute gemaak.

 

Fotos 2015 020

 

Die eerste 18 maande van ‘n kind se lewe soek hy of sy vertroue, dit is die gieterstadium.  Daarna tot ouderdom 6 jaar  is die vorm jare,  die saagstadium,  maar waak daarteen om nie jou kind “dood te saag” of oor te beskerm nie.  Ons gee partykeer ons kinders te veel keuses.

 

Belangrik:  Ons as ouers maak foute!  Ons moet ook kan jammer sê vir ons kinders.

 

Kinders moet die gevolge dra van hul dade.

 

Marietjie verduidelik vir die dames, om hulle eie temperament en hulle kinders s’n te verstaan, deur verskillende bome.  Daar is hoofsaaklik vier boomsoorte – ‘n palmboom, ‘n roosboom, ‘n sierboom(lollipop) en ‘n denneboom.   Bome kom in baie variasies voor.

 

Gewoonlik val hy/sy nie in een temperament groep nie, maar het heelwat meer van twee groepe en minder van ander twee.

 

‘n Paar voorbeelde van elke boompie:

 

Wat Palmboompies laat floreer:  Hou van  die kollig en van baie mense,  is nuuskierig,  kreatief,  hou van drukkies en aanraking,  is passievol,  is positief,  hou van pret en opwinding en kan fantaseer.

 

Wat moet Palmboompies leer: Om geld en tyd oordeelkundig te spandeer, deur te druk met vervelige pligte, om na ander te luister, vriende versigtig te kies, verantwoordelikhede ernstig op te neem.

 

Ons Palmboompies leer die beste:  wanneer daar gevolge is vir hulle optrede, wanneer die eindpunt en beloning in sig is, by ‘n rolmodel vir wie hulle bewondering het.

 

Wat Roosboompies laat floreer:  Hou van in beheer wees,  wil leiers wees,  fisieke, intellektuele en sosiale uitdagings, hul is slegte verloorders,  hou van fisiese aktiwiteite,  baie energie,  hulle is reguit, vra nie graag hulp nie, vra graag hoekom?,  nie bang vir konfrontasie nie.

 

Wat moet Roosboompies leer:   om op niemand neer te sien nie, om ander mense se gevoelens en behoeftes in ag te neem,  om “nee” vir ‘n antwoord te aanvaar,  om foute te erken, om met respek te praat, om ander te dien.

 

Ons Roosboompies leer die beste:   wanneer daar ‘n duidelike doelwit is, hulle as waardevolle mense in eie reg hanteer word,  wanneer die  “les” kort en kragtig en prakties is.

 

Wat Sierboompies(lollipop)  laat floreer:   versekering van liefde,  die boompies is baie sensitief, emosioneel,  konstante aanmoediging,  hou van reëls,  hou van vooraf kennisgewing van verandering,  hou van lysies,  roetine,  inligting, help met hulle selfbeeld, het  alleentyd  nodig,  kunssinnig,  neem lewe ernstig op en raak maklik emosioneel.

 

Wat moet Sierboompies leer:   moet realistiese standaarde vir  hulself hê,  om emosies te verwoord, om te vergeet en te vergewe, om te ontspan en hulleself  te leer ken en om te gee en te deel.

 

Hoe  Sierboompies leer:    wanneer mense met hul sag en vriendelik is,  wanneer hul vrae mag vra totdat hul verstaan, wanneer hulle ‘n ordelike omgewing om hulle het, die eindpunt duidelik is.

 

Wat Denneboompies laat floreer:   rustige atmosfeer en vrede tussen die lede van die gesin, tradisies, stabiliteit en basiese dinge wat nooit verander nie,  iets of iemand te versorg soos plantjies of diere, hulle dink versigtig en stadig,  hou daarvan om passief te wees, stel maklik uit  tot laaste oomblik, vat lank om aan die gang te kom,  soms vergeetagtig, hou nie van die kollig nie.

 

Wat moet Denneboompies leer:   hulleself te motiveer,  luiheid te oorwin wanneer daar belangrike werk is,  emosies en behoeftes te verwoord,  konflik te hanteer, reguit te sê wat hulle dink,  keuses te maak,  selfgeldend op te tree,  om te waag en verandering aan te gryp en nuwe dinge te probeer.

 

Hoe Denneboompies leer:   deur te kyk hoe ander iets doen,  deur saam met iemand die taak  uit  te voer, ‘n groot taak in kleiner stappe verdeel word,  wanneer hulle nie voor ander hoef te waag nie.

 

Belangrik in een huis, is ‘n hele kwekery!!  Onthou ook ons of ons kinders kan ‘n mengsel van twee of meer bome wees, dan is ons geënte bome.  Ons bome het almal behoeftes.