Sirkel: Tygerberg
Tak: Brackenfell
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Lettie Van Wyk
Datum: 4 Junie 2015
Sheila Burger, Sameroeper van Kunste en Handvlyt, en haar spannetjie het die lede baie spesiaal laat voel op ‘n koue wintersmôre in die Kaap. Die tafels was gedek met fyn porselein en die eetgoed by die tee smullekker.
Die tak het besoek ontvang van hulle Sirkel President, Caro Ekermans – altyd ‘n voorreg om haar by hulle te hê!
Sheila het die lede meer vertel van die kruise wat sy maak en ‘n paar nuttige wenke gegee oor hoe om te werk te gaan as jy ‘n kruis suksesvol wil maak. Sy tel altyd die mooiste dinge op die strand op. Pak eers alles wat jy wil gebruik voor jou uit en begin van ‘n kant af. Die pragtige kruis uit dryfhout is ‘n voorbeeld van haar werk.
Riana Ellis het ook haar handewerk vir die lede gewys. Sy vertel dat sy net mooi niks weggooi nie. Daar het eenkeer ‘n erf-koppie gebreek en nou het sy dit in ‘n pragtige mosaiekkruis verwerk.
Sheila het ook blomme uit eierhouers gedemonstreer en meer as een lid geinspireer om ook te gaan probeer as hulle tuiskom.
Brackenfell het Jubeleum-huis en Oom Samie se winkel gaan besoek tydens ‘n tak-uitstappie, en die dames is teruggevoer daarheen deur die prettige skets wat Sheila en Riana opgevoer het.
Voorwaar ‘n oggend wat die harte verwarm het en die hande aan die werk gaan sit!
Leave A Comment