Sirkel:  Noord-Karoo

Tak:  Murraysburg

Portefeulje:  Openbare Sake

Beriggewer:  Mette Kromhout

Datum:  3 Junie 2015

 

 

Tydens Lina van den Berg se Openbare Sake-vergadering is klem op veiligheid in verskillende omstandighede gelê.  Hein Grebe het die lede oor sekuriteit in die kuberruim ingelig en genoem dat persoonlike inligting nooit uit die kuberruim verdwyn nie.  Almal is blootgetsel aan “Phishing” of dan tegnologiese visvang.   E-posse van bv. banke wat jou vra om jou inligting te verskaf,  moet glad nie oopgemaak word nie soos ook e-posse wat jou inlig omtrent geld wat jy kwansuis gewen of geërf het.  Van dié soort e-posse lyk so geloofwaardig dat mense wel tot hulle skade reageer.  Persoonlike inligting is ook al hoe meer op selfone beskikbaar.  Wagwoorde is nie meer veilig nie en  ‘n magdom nuwe toepassings vergemaklik die bekom van vertroulike inligting.   Grebe waarsku die dames om uiters versigtig met hulle vertroulike inligting om te gaan.

 

DSC02476

 

Rykie de Klerk en Mia Theron verduidelik dat geweld,  selfs dodelike geweld,  gebruik mag word ten einde eiendom te beskerm.   Vir die verdediging van eiendom om wettig te wees,  moet die eiendom tans in gevaar van onwettige skade of vernietiging wees.   Regmatige verdediging moet ‘n redelike reaksie op die aanval en teen die aanvaller gerig wees.  Indien dit redelik moontlik is,  moet die verdediger eers die aanvaller waarsku en homself tot die mins gevaarlike,  maar doeltreffende,  reaksie beperk.  Die middels wat gebruik word om die aanval af te weer,  moet redelik wees en opweeg teen die middel van die aanvaller.  Daar mag ook nie sommer net ‘n klomp skote in die rigting van ‘n ongewapende of ‘n vlugtende aanvaller geskiet word nie.  Die twee prokureurs het die lede daarop attent gemaak dat voorsorg teen onwettige betreding altyd getref moet word.

 

 

Die vergadering het die dames beslis weer oor hulle sekuriteit in die kuberruim en hulle huise laat nadink.