Sirkel:  Overberg

Tak:  Bredasdorp

Beriggewer:  Hermien van Zyl / Lorraine du Toit

Datum:  18 Maart 2015

 

 

Die hartstaal van die Overberg het op 18 Maart soos ‘n goue draad deur al die verrigtinge geloop toe + 120 gaste, afgevaardigdes en waarnemers sirkel Overberg se 82ste jaarlikse Konferensie, met die tema Vroue met Visie, op Caledon bygewoon het.

 

OVERBERG KONF 01 (Custom)

Pieter van Zyl, Annatjie Liebenberg, De Wet le Roux

 

Konferensiegangers is verwelkom met groeteboodskappe deur raadsheer Chris Punt, burgemeester van Theewaterskloof Munisipaliteit, en Andrè Uys, Hoofbestuurder Overberg Agri.  Die VLV-lede kon laasgenoemde bedank vir Overberg Agri se betrokkenheid by die sirkelprojek om gedenkblikkies te laat maak vir VLVK se 85ste bestaansjaar.  Hulle het ook die geleentheid gebruik om ‘n toekenning te oorhandig aan Pieter van Zyl en De Wet le Roux van die Señor Chef-skoleprojek vir hulle bereidheid om die blikkies gratis te vervoer.

 

OVERBERG KONF 02 (Custom)

Prof Dorothea van Zyl, die gasspreekster, en Rienie Ludick van Gansbaai.

 

Prof Dorothea van Zyl, vanaf 1984 – 2014 ‘n dosent aan die Universiteit van Stellenbosch se Departement Afrikaans-Nederlands en die stigter in 2000 en nou uittredende hoof van die US Woordfees, was die gasspreker.  Sy het die konferensiegangers die suksespad van die Woordfees saam met haar laat loop en vertel hoe die Woorde Open Wêrelde-projek verlede jaar 220,000 leerders landwyd verryk het.  Sy het vroue met visie aangemoedig om hulle kinders moedertaalonderrig te laat geniet, om hulle Afrikaanse boeke te gee om te lees, om selfs Afrikaanse tydskrifte saam met kospakkies aan hulpbehoewendes uit te deel.

 

Sirkel Overberg het ook ‘n toekenning oorhandig aan dr Isaac Balie, wat nà 50 jaar as kurator/direkteur van die Genadendal-museum uittree.  Hy is gehuldig en bedank vir die noukeurigheid waarmee hy kosbare dokumente bewaar oor die geskiedenis van Afrikaans in die Overberg sodat dit vir die hele land ‘n kultuurerfenis is.

 

Selfs die plekmatjies en servette met tipiese Afrikaanse uitdrukkings en woorde daarop vir die middagete, het aangesluit by die tema waarmee die klem geval het op Afrikaans wat vanjaar 90 jaar ‘n landstaal is.  Sonica Louw, onderwyser in Toerisme aan die Hoërskool Overberg op Caledon, het gewys daarop dat hierdie soort artikels met Afrikaanse woorde op, baie gewild is by buitelanders en dat hulle selfs daarmee leer Afrikaans praat.  Sy het die konferensiegangers aangemoedig om hulpvaardig en vriendelik teenoor toeriste te wees.

 

Daarna het die konferensiegangers eenparig die voorstel aangeneem dat ‘n versoekskrif aan die onderskeie burgemeesters van Theewaterskloof, Overstrand en Aghullas gerig sal word dat hulle instrumenteel daarin sal wees dat Afrikaans, as die voertaal van hierdie gebied, weerspieël sal word in die amptelike advertensiemateriaal gemik op toeriste.  Daar word geen voorsiening gemaak vir die Afrikaanssprekende toeris nie – volgens akkommodasie-syfers die grootste persentasie besoekers.

 

Sandra Venter, bestuurder van die Caledon Spa, het vertel wat ‘n spa-ervaring behels terwyl vier van haar personeellede van die dames se hande vertroetel het;  Janet Hauman, van die Diepgat-kwekery vir inheemse bome, het die Boom van die Jaar, die Vaderlandswilg, bekend gestel;  Annette Theron, redakteur van die Theewaterskloof Gazette het die vereistes vir ‘n koerantberig en foto verduidelik en Lorraine du Toit het die Wêreldbond van Plattelandse Vroue en VLV se verbintenis verduidelik n.a.v. die Streekkonferensie in Modimole.

 

OVERBERG KONF 05 (Custom)

Rienie Ludick, nuwe sirkelpresident, en Corrie Fourie, nuwe Vise-president.

 

Hermien van Zyl tree nà 14 jaar uit as sirkelpresident en Rienie Ludick van Gansbaai is onbestrede verkies as die nuwe sirkelpresident met Corrie Fourie van die Jongensklip-plaastak as die vise-president.  Nonnie de Bondt, ook van Jongensklip, is die nuwe sirkelsekretaresse in die plek van Annatjie Liebenberg.

 

OVERBERG KONF 04 (Custom)

Daar word afskeid geneem van Hermien van Zyl deur Annatjie Liebenberg van Gansbaai en Rienie Ludick, nuwe sirkelpresident, ook van Gansbaai.

 

In die kompetisie-afdeling het Bredasdorp die Hugo-trofee verower vir die meeste punte behaal, Kleinmond was tweede en Hermanus derde.

 

OVERBERG KONF 03 (Custom)

Hermien van Zyl, uittredende president, oorhandig een van 5 trofeë aan Lorraine du Toit van Bredasdorp.  Regs agter staan Ninnie du Toit van Kleinmond.