Sirkel:  Overberg

Tak:  Caledon

Portefeulje:  Konferensie

Beriggewer:  Yvonne Pretorius

Datum:  18 Maart 2015

 

Die 82ste Konferensie van Sirkel Overberg was gehou te Caledon op Woensdag, 18 Maart 2015. Die tema vir hierdie jaar is “Vroue met Visie”. Ds. Jannie Hougaard het die verrigtinge geopen met Psalm 88 vers 22 tot 24 as teks. Elke dag moet gesien word as ʼn geskenk en ons moet voluit lewe.

 

vlv konferensie 023 (Custom)

Retha Skein, Voorsitter Caledon tak en Hermien van Zyl,  Sirkel President

 

vlv konferensie 048 (Custom)

Hermien van Zyl ontvang haar sertifikaat van Annatjie Liebenberg en
Rienie Ludick

 

Ongeveer 90 afgevaardigdes en besoekers het die geleentheid bygewoon. Dit was ook ʼn baie geskiedkundige geleentheid waartydens Hermien van Zyl, Sirkel President, na 14 jaar die leisels oorhandig het aan Rienie Ludick van Gansbaai. Elna Botha, Vise-President, was nie verder beskikbaar nie en Corrie Fourie is verkies. Annatjie Liebenberg, Sirkel Sekretaresse het na 8 jaar uitgetree en oorhandig nou aan Nonnie de Bondt.

 

vlv konferensie 042 (Custom)

Prof. Dorothea van Zyl en Rienie Ludick, nuwe Sirkel President

 

Lydia Geldenhuys, Ere Sirkel President, het die Vriendskapkers aangesteek.  Elkeen van die verskillende sameroepers het ‘n kers aangesteek waarmee ons iemand in gedagte roep wat op daardie terrein op die voorgrond was.

 

vlv konferensie 038 (Custom)

Raadsheer Chris Punt en Mev Erika Punt

 

Die eregaste was Chris Punt, burgemeester van die Theewaterskloof Munisipaliteit, en Erika Punt.  Erika is ʼn oud-VLV lid en voorheen voorsitter van Riviersonderend se tak.

 

Chris Punt het die vroue bedank vir hul bydrae tot die samelewing. André Uys, Hoofbestuurder van Overberg Agri, het die dames verseker dat dit goed gaan met die landbou en dat daar voedsel sekerheid is. Hy vra die dames om ingelig en betrokke te bly by die landbou.

 

Prof. Dorothea van Zyl, was die voorvatter om die Woordfees en WOW (Woorde Open Wêrelde) op die been te bring. Haar tema was “Die Vrou met Visie staan op vir Afrikaans”. Sy het dit beklemtoon dat kinders beter vaar in hul latere lewe as hulle hul opleiding in hul moedertaal ontvang. Ons moedertaal is die grondslag van alles. Die Woordfees het absoluut gegroei en het hulle selfs ʼn deurnag fees aangebied. WOW is ʼn uitreik projek om skole met minder bevoorregte kinders, wat nie altyd die nodige leesstof kan bekostig nie, te ondersteun. Tans word 39 skole ondersteun. Sy het ook ʼn beroep op die dames gedoen om nie ou tydskrifte weg te gooi nie maar om dit liewer te skenk aan minder bevoorregte persone om hulle die geleentheid te bied om te kan lees.

 

vlv konferensie 050 (Custom)

Retha Skein ontang ‘n pragtige bos blomme van Annatjie Liebenberg

 

Afrikaans bestaan nou reeds 90 jaar en die Overberg Sirkel het besluit om aan dr. Balie, kurator van die museum op Genadendal, ʼn toekenning te gee vir die prominente rol wat hy gespeel het om met die goeie bestuur van die museum, die belangrike primêre bronne van Afrikaans se herkoms te bewaar.

 

vlv konferensie 043 (Custom)

Senõr Chef se twee manne naamlik Pieter van Zyl en De Wet Le Roux saam met Annatjie Liebenberg vlv konferensie

 

Die twee jongmanne van Senõr Chef, naamlik Pieter van Zyl en De Wet Le Roux, het ook ʼn toekenning ontvang vir hul hulp met die stoor en verspreiding van die VLV blikkie projek.

 

Lorraine du Toit van Bredasdorp het die dames ingelig in verband met haar en Erika Lubbe se bywoning in Junie 2014 van die Suid-Afrika streekskonferensie te Modimolle van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue.

 

As Sirkel sameroeper vir Huis en Haard en VLVK WW het sy vir Annette Theron, redakteur van die TWK Gazette, gevra om die dames meer inligting te verskaf i.s. die samestelling van artikels aan Huis en Haard, die webwerf of die media. Hoe, wat en waar is die mees belangrike dele van so ʼn artikel.

 

Sonica Louw, toerisme onderwyseres by Hoërskool Overberg, het ʼn baie interessante praatjie gelewer in verband met toerisme. Suid Afrika is baie gewild as gevolg van die wisselkoers en veral die Engelse en Europeërs kom gereeld by ons besoek aflê. Skoonheidsoperasies is baie goedkoper en is dit ook ʼn baie groot lokaas om na Suid Afrika te kom. Om toeriste na Suid Afrika te lok, moet ons almal uitreik met vriendelikheid en hulpvaardigheid. Petroljoggies is ʼn baie belangrike skakel om inligting van die verskillende dorpe en stede aan besoekers oor te dra. Meer behoort gedoen te word om hulle beter in te lig. Sonica voel die nuwe slagspreuk vir toerisme behoort te wees, “South Africa inspiring new ways”, veral gesien in die lig van die onlangse “eerste in die wêreld” operasie gedoen deur ʼn professor van Stellenbosch.

 

Jeanette Hauman van die plaas Diepgat, het die boom van die jaar, die Bosvaderlandwilg, bekendgestel en het in sy plek die gewone Vaderlandswilg saamgebring, wat beter in ons streek aanpas. Bome moet gedurende April, Mei en Junie geplant word.

 

Sandra Venter, Spa Bestuurder van The Caledon Hotel, Spa & Casino, het ʼn praatjie oor verskillende spa behan-delings aangebied. Tydens hierdie praatjie het drie van die terapeute die dames bederf met ʼn heerlike hand massering.

 

vlv konferensie 012 (Custom)

Blomme rangskikking gedoen deur Judy Goode