Sirkel:                         Namakwaland

Beriggewer:               Janine Brynard

Datum:                       12 – 14 Maart 2015

 

 

Benewens die VLVK kongres, bly ‘n Sirkelkonferensie elke jaar dié geleentheid om na uit te sien.  Die gesels word sommer dadelik opgetel, waar dit verlede jaar hierdie tyd gelos is, en lief en leed word gedeel vir drie heerlike kuier-dae.  Die gasvrou-tak werk ook elke jaar kliphard om aan alle afgevaardigdes ‘n goedvoel-bederf-onthou-geleentheid te gee.  Maar dit is, helaas, nie al waaroor ‘n Konferensie gaan nie!

 

Een van die afdelings, waarna telkens met groot afwagting uitgesien word, is die sprekers wat genooi word om in die verskillende studie-rigtings ‘n praatjie te kom aanbied.  Tydens die Gesondheid-afdeling, het me Theodette Golden, Apteker, wat vanjaar haar praktiese jaar doen by die Calvinia Kliniek, die verskil tussen die newe-effekte en nadelige effekte van medikasie verduidelik.  Dit gebeur dikwels, dat iemand se liggaam ‘n reaksie toon op die gebruik van ‘n spesifieke middel, maar hoe verstaan jy wat gebeur?  En hoe skadelik is dit?  Maak seker jy lees altyd die kontra-indikasies op die voubiljet in die verpakking, asook wat die regte dosis en gebruiksaanwysings is vir self-medikasie.  Lees ook veral wat die newe-effekte en spesiale voorsorgmaatreëls kan wees, alvorens enige medikasie geneem word.  En as dit alles Grieks klink, vra gerus eers jou Apteker se raad.

 

Me Susan Carstens, ‘n skool maatskaplike werker van die WKOD, het as spreker opgetree in die Openbare Sake-afdeling.  Haar werk behels om effektief, anatomies korrekte poppe as terapeutiese hulpmiddels te gebruik.  Kinders wat seksueel gemolesteer word, het ‘n ernstige probleem in ons land geword.  Dit bly egter vir kinders ‘n probleem om hieroor te praat, omdat dit hulle aan woorde ontbreek, maar ook, omdat dit sekondêre trauma veroorsaak, om daaroor te praat.  Hulpmiddels is oor jare ontwikkel om praktisyns te help om kommunikasie makliker te maak vir die kind.  Dit vereis doeltreffende opleiding en kan nie net lukraak gebruik word nie, anders kan die skade net erger raak, in plaas daarvan om die kind te ondersteun en te begelei.  In hierdie proses, word ‘n anatomiese pop gebruik.  Hierdie poppe is sagte, geklede poppe, wat ‘n replika is van die menslike liggaam, kompleet met al die seksuele liggaamsdele, openinge en selfs vingers.  Dit moet sag en onbreekbaar wees en die gesig en hare moet lyk soos mense s’n en nie soos hansworse nie.  Die funksie is om aan die kind ondersteuning te bied in ‘n ontspanne atmosfeer.  Dan kan dit ook as demonstrasie hulpmiddel dien, sodat die kind liewer kan wys, as om te praat oor wat gebeur het.  Hierdie poppe bied hoop vir kinders wat seergekry het deur trauma en mishandeling.

 

In die Leefstyl-afdeling, het me Sanette Swift, fisioterapeut by Abraham Esau Hospitaal, verduidelik hoekom dit belangrik is om die regte skoene te dra.  Daar is verskeie faktore om in ag te neem, wanneer ‘n skoen gekies word.  Elke mens se voet beweeg verskillend en alle voete het verskillende vorms.  Skoene word ontwerp met verskillende eienskappe, wat dit ideaal maak vir sekere aktiwiteite op sekere oppervlaktes.  Beserings ontstaan gewoonlik wanneer onvanpaste skoene gedra word.  Dit sluit in voet-, skeen-, hakskeen-, bobeen- rugpyn en selfs hoofpyne, vanweë die liggaam se geneigdheid om te oorkompenseer vir postuurfoute.  Om dus die beste skoen te kies, moet jou voettipe in ag geneem word.  Die drie tipes is die neutrale, normale voet, die pronator of plat voet en die supernator of hoë voetbrug.  Sodra jou voettipe bepaal is en jy die korrekte skoene gekies het, moet jy ook seker maak dat dit die regte grootte is en korrek pas.  Skoene wat te nou is, kan lei tot hammertone, eelte en liddorings.  Die heel beste is om by ‘n voetkundige uit te kom om die beste skoen vir jou voete te kry.  Dit sal die wêreld se verskil maak.

 

Me Orna van Niekerk, het almal geïnspireer om kreatief te raak, in die Kunste & Handvlyt-afdeling.  In die Namakwaland is dit nogal ‘n uitdaging om veral met blomme kreatief te raak, Maar ‘n goeie eindresultaat word nie so sterk beïnvloed deur die materiaal wat ‘n mens gebruik nie, maar eerder deur die manier waarop dit saamgestel word.  Die grondbeginsels van ontwerp, wat geld by alle kunsvorme, maar veral by die rangskikking van blomme, is balans, vorm, proporsie, harmonie, ‘n fokus- of instellingspunt, diepte, groepering en ritme.  Met pragtige voorbeelde op foto’s en ‘n hele paar rangskikkings, kon almal aangemoedig voel om met dít wat beskikbaar is, iets pragtigs te maak.

 

Vir die Opvoeding & Kultuur-afdeling, het me Elize Engelbrecht, leerkrag van Laerskool Calvinia die toekomsprentjie van onderwys in Suid-Afrika geskets.  En ‘n mooi prentjie is dit allermins.  Die vraag bly egter, wat gaan ons daaromtrent doen?  Die uitdagings is legio en die probleme lê nie by kwantitatiewe sake soos hulpbronne nie.  Dit gaan eerder oor gehalte, toewyding, onderwysbestuursvaardigheid, onderwyser- en leerlingvaardigheid en veral ouervaardigheid.  Aan lg. kan ons as ouers wel iets doen.  Ouers hoef nie te wag dat skole kinders moet opvoed en leer nie.  Die primêre vaslegging en grondslag word in die ouerhuis gelê.  Ouers moet kinders help om ‘n sukses te maak van hul skoolloopbaan en verder.  Wees ‘n positiewe rolmodel.  Aanvaar jou kind onvoorwaardelik.  Waardeer en respekteer jou kind.  Gee erkenning, al is die sukses gering.  Fokus op jou kind se poging en veral die voltooiing van ‘n taak, eerder as sy prestasie.  Laat jou kind veilig voel.  Gee vir jou kind keuses.  Leer jou kind om verantwoordelikheid te aanvaar vir sy gedrag.  Stel jou kind bloot aan ‘n verskeidenheid opdragte.  Beperk televisie-tyd.  Kweek ‘n liefde vir lees by jou kind.  Maak ‘n punt daarvan om te weet wat jou kind op skool leer.  Beloon jou kind vir pogings en vordering, maar nie met duur geskenke nie – gee eerder van jou kosbare tyd.  Stel haalbare doelwitte.  Moedig jou kind aan om foute te maak.  Moedig jou kind aan om krities te dink en vrae te vra.  Kommunikeer daagliks met jou kind en nie net altyd oor skoolwerk nie.  Onthou dat jy as ouer eienaarskap moet aanvaar en die skool moet bystaan in die onderrig van jou kind.  Slegs dan het Onderwys ‘n plek in die toekoms.

 

In die laaste afdeling, Landbou & Tuinbou, het me Elzabé Augustyn die geskiedenis en toekoms van Klapper bespreek.  Dit is werklik ‘n baie veelsydige vrug, waarvan ‘n mens letterlik elke deel kan gebruik – selfs die boom daarvan!  ‘n Klapperboom groei die beste in souterige, sanderige grond en het baie water nodig.  Dit kan selfs gedy in see- en brakwater.  Die bome word 20 – 30 m hoog en om hierdie rede, gebruik die inwoners van Thailand en Maleisië kuifape om die klappers te gaan pluk, bo in die bome.  ‘n Boom kan tot 75 klappers in ‘n jaar dra, wat elk sowat 1,5 kg swaar is.  Om 1 ton klapper te produseer, word 6 000 groot vrugte gebruik. Die gebruike van ‘n klapper-vrug sluit in die olie vir braai, of velerlei ander gesondheids-gebruike;  die vleis wat vars of gedroog gebruik kan word in seep, skoonheidsmiddels, haarolie en selfs charcoal;  die melk vir soutgeregte;  die meel vir gebak;  die water as sportdrankies of gefermenteer as asyn;  die blomme om net so te eet of konfyt en blatjang daarvan te kook;  die hare om tou, deurmatte, borsels of potplantkompos te maak.; die blaarnerf vir besems, dakke en sosatiestokkies;  die jong blare om rys in te kook of om muskiete daarmee weg te hou as dit gebrand word;  die stam van die bome om bruggies en hutte mee te bou, omdat dit baie sterk is;  die olie as velbevogtigers, sjampoes, ens.  Kortom – die wondervrug van die gode!

 

Soveel inspirasie!  Genoeg om ‘n hele jaar lank te hou…