Sirkel:  Namakwaland

Portefeulje:  Konferensie

Beriggewer:  Janine Brynard

Datum:  12 – 14 Maart 2015

 

 

Elke jaar poog die VLV om die vrou te bemagtig en te verryk, sodat sy ‘n verskil kan maak in haar huishouding, maar ook in haar gemeenskap.  Vanjaar se tema, het dan ook net op die regte oomblik gekom, want nou, meer as ooit, het Suid-Afrika vroue met visie nodig.  Ons land dobber uitsigloos rond, op soek na iemand wat die moed het om op te staan en die toekoms met hoop tegemoet te stap.

 

Vir die eerste keer in die 38ste bestaansjaar van Hantam VLV, kon sy as gasvrou optree vir Sirkel Namakwaland se Konferensie.  Soos ‘n baken van hoop, het die Hantam-vroue besluit om die tema van die geleentheid te maak:  Die lewe is ‘n lied!  Regdeur is die tema treffend uitgebeeld met wat beskikbaar is in ons harde, ongenaakbare omgewing – granate, sukkelente, ou boeke en, natuurlik, musiek.

 

‘n Vrou met visie, het die regte gereedskap nodig, sodat sy vir ander tot seën kan wees en hiervan was daar beslis oorvloedig.  Met die amptelike opening het me Frances de Kock die vrou daaraan herinner, dat om ‘n Spreuke 31-vrou te wees, sy eers haar hulpbronne by God moet kry soos wat in Spreuke 1 verduidelik word.  Slegs dan, kan sy werklik ‘n vrou wees waarna ander opkyk.

 

Tydens haar presidentsrede, het me Karien van Schalkwyk die feit gestel dat ‘n vrou vandag voor talle geleenthede, uitdagings en risiko’s te staan kom.  Die vraag is, of sy die visie gaan hê om besluite te neem wat die toekoms gaan beïnvloed.  Volgens dr S.T. Potgieter is ‘n persoon suksesvol in haar roeping gemeet aan die hoeveelheid ambisie wat sy het en of sy visie vir die toekoms het.  Visie is die drang of strewe na ‘n droom.  Ambisie is ‘n voortdurende begeerte wat jou voortdryf om sekere doelwitte te bereik, maar die belangrikste om te weet, is dat visie én ambisie ‘n persoonlike saak is.  Elke mens het die reg en verantwoordelikheid om oor sy eie ambisie te besluit.  Weet waarheen jy op pad is, bepaal jou doelwitte, ploeg jou energie en tyd daarin, wees bereid om sekere dinge op te offer, verbeter jou vermoë en sodoende jou kundigheid en onthou om ‘n gesonde balans te handhaaf.  Visie is nie net vir iemand in ‘n leiers-posisie nie;  elke vrou behoort met oortuiging die visies van haar hart en verstand te volg.  ‘n VLV-vrou dink vooruit, want ‘n VLV-vrou het visie!

 

Die vise-voorsitter van Calvinia Landbou Unie, me Marcellene van Rooyen, het in haar groete-boodskap vroue aangemoedig om meer betrokke te raak by georganiseerde landbou.  Dit bly die vrou se roeping om positief te bly, al lyk alles baie donker.  Deur haar talente en potensiaal te ontwikkel sal sy haarself bemagtig om veral opheffingswerk te doen, maar ook om te begin ag slaan op veiligheid;  om hoop te hê en met visie die voorbeeld te stel sodat sy ander na haar toe sal aantrek met dieselfde missie as sy.

 

Me Sonja Squires, brein-ontwikkelingsspesialis van Neurolink, was die gasspreker tydens die aandfunksie.  God het onmeetbaar baie potensiaal vir elke vrou gegee.  Die vraag is egter of sy lewe-gewende visie het?  Wanneer sy gaan stil word en toelaat dat die Skepper haar hart nuut maak sal sy heeltemal anders dink (vgl. Eseg. 36:26).  Visie is uniek tot elke vrou, dit word gebore uit haar eie pyn en begeerte.  Haar lewensgeskiedenis van ervarings en vaardighede is deur God gefilter, sodat sy toegerus en gereed kan wees hom haar visie uit te leef.  Dit is egter noodsaaklik om te weet hoe die brein gaan reageer op uitdagings en bedreigings.  Reaksies ontstaan uit ‘n hoër of laer orde funksie in die brein.  Die hoër orde funksies maak geheelbrein-denke moontlik, wat help om alle feite in ag te neem en om onproduktiewe gevolge te voorkom.   Laer orde funksie is beperk tot emosionele en oorlewingsgedrewe aksie wat altyd slegte gevolge bring.  Dit skep selfsugtige optrede wat skade kan bring vir ander en is nie lewe-gewend.  God se liefde stel die brein in staat om op ‘n hoër orde vlak te funksioneer.  Dit is krities vir die suksesvolle volvoering van skeppende visie.  Die tyd is nou om jou visie te kry by die Here en dit voluit te leef met kennis van jouself.

 

 

Sirkel Namakwaland (Custom)

Alle afgevaardigdes na Sirkel Namakwaland se 78ste Sirkelkonferensie op Calvinia.

 

 

Gasspreker (Custom)

Vanjaar het me Sonja Squires, as gasspreker tydens die dinee opgetree.  Sy het ‘n treffende boodskap gehad:  “Laat toe dat God jou hart nuut maak, sodat jy anders  kan dink!”  Op die foto verskyn me Karien van Schalkwyk, sirkel- en VLVKpresident, me Sonja Squires en me Janine Brynard, takvoorsitter van Hantam en  programbestuurder van die aandfunksie.

 

 

Hantam se stigterslede (Custom)

‘n Groot hoogtepunt in die 38ste bestaansjaar van Hantam VLV, was om vanjaar die Sirkelkonferensie van Namakwaland vir die eerste keer solo te kon aanbied. Tydens hierdie geleentheid, is die stigterslede van die tak vereer vir hul jare-lange bydraes, asook vir hul visie om van Hantam VLV ‘n baie spesiale VLV-tak te maak.  Op die foto verskyn 6 van die 9 stigterslede wat die geleentheid kon bywoon, v.l.n.r.   mee Karien van Schalkwyk, VLVK president, Baby Nel, eerste takvoorsitter en ere- lid van Hantam VLV en Louise Brynard, 1e taksekretaris.  A.l.n.r. mee Karin van der Merwe, Lourine Nel en Ena van Schalkwyk.  Afwesig was mee Anna van der Merwe, Ellen van Niekerk en Gerda van der Merwe.

 

 

Trofee-wenners (Custom)

Tydens Sirkel Namakwaland se konferensie op Calvinia, het Loeriesfontein-tak vanjaar die trofee gewen vir die tak met die meeste punte behaal in die kompetisie-    afdeling.  Op die foto verskyn v.l.n.r. mee Lehana Nel, Alida Vlok, Elize Boonzaaier  (takvoorsitter), Danelia Louw en Gloudine Schade, almal van Loeriesfontein-VLV en almal ook deelnemers aan die verskeie kompetisie-afdelings, waarin pryse verower is.

 

 

Nuwe beoordelaars (Custom)

Tydens die Sirkelkonferensie van Namakwaland, het die nuwe beoordelaars van VLVK hul sertifikate ontvang, nadat hulle die kursusse suksesvol voltooi het.  Dit was beslis ‘n groot   voorreg vir elkeen van die kandidate, toe die voorsitter van die  VLVK-beoordelaarspaneel, me Ronella Rademeyer, haar sertifikaat aan haar oorhandig het.  Op die foto verskyn v.l.n.r me Sanet Ras (Vredendal VLV:  Gebak,    Lekkers, Preservering en plaasprodukte, asook Masjien-, brei- en hekelwerk), me Elizabeth Cloete (Eksaminator en lid van VLVK-beoordelaarspaneel en deesdae ook bekende van Koekedoor-faam!), me Karien van Schalkwyk (VLVK-president),  me Ronella Rademeyer (VLVK-erepresident en voorsitter van VLVK- beoordelaarspaneel), en me Henriette Smit (Eksaminator).  M.l.n.r. me Dorothy Krige (Sirkel Worcester: Masjien-, brei- en hekelwerk), me Lehana Nel   (Loeriesfontein VLV:  Masjien-, brei- en hekelwerk), me Adolene Nel (Hantam VLV: Masjien-, brei- en hekelwerk) en me Danelia Louw (Loeriesfontein VLV:  Masjien-, brei- en hekelwerk).  A.l.n.r. me Karin van der Merwe (Hantam VLV:  Masjien-, brei- en hekelwerk), me Emjee Louw (Hantam VLV:  Gebak, Lekkers, Preservering en plaasprodukte), me Janine Brynard (Hantam VLV:  Gebak, Lekkers, Preservering en plaasprodukte) en me Gloudine Schade (Loeriesfontein VLV:  Gebak, Lekkers, Preservering en plaasprodukte)

 

 

Nuwe Sirkelpresident (Custom)

Tydens Sirkel Namakwaland se konferensie, is me Heidi van Niekerk, voorsitter van  Nieuwoudtville VLV, verkies as die nuwe sirkelpresident.  Op die foto verskyn me Karien van Schalkwyk, uittredende sirkelpresident, nadat sy me Van Niekerk se   nuwe kenteken aan haar oorhandig het.

 

 

Vriendskapseremonie (1) (Custom)                                                                                               Vriendskapseremonie (2) (Custom)

Me Baby Nel (stigters- en erelid van Hantam VLV) – Foto (1) – en me Riana van   Niekerk (oud-Sirkelpresident van Namakwaland) – Foto (2) – het die vriendskapseremonie behartig tydens die Sirkelkonferensie van Namakwaland.  Me Nel het die Internasionale gebed voorgelees en me Van Niekerk het die Vriendskapskers aangesteek.

 

 

Vlagseremonie (Custom)

Me Janine Brynard, voorsitter van Hantam VLV (gasvrou-tak vir die Konferensie), me Karien van Schalkwyk, VLVK-president en uittredende Sirkelpresident en me Kirsten Fourie, taksektretaris tydens die Amptelike opening, vlagseremonie.

 

 

Laerskool Calvinia Seniorkoor (Custom)

Tydens die Sirkelkonferensie van Namakwaland se amptelike opening, het die   Seniorkoor van Laerskool Calvinia opgetree en die Volkslied en ander gewyde liedere gesing.  Om na hierdie bekroonde koor te luister, bly voorwaar ‘n hoogtepunt!