Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Victoria-wes

Portefeulje: Opvoeding en kultuur

Datum: 14 Maart 2015

Beriggewer: Elize Perrin

 

 

Die VLV se Opvoeding en kultuur vergadering het op 14 Maart in ‘n vrolike luim in die kerksaal plaasgevind. Daar is bietjie op die “oue” gefokus. Die personeel van Huis Frieda Kempen ouetehuis is ook genooi om die oggend saam met die dames te kom geniet.

 

Aangesien die tak vanjaar sy 85ste verjaarsdag vier, is meer  vertel oor die geskiedenis van die VLV se embleem: die swart potjie. Me. Monica Scholtz (met erkenning aan me. Hermien van Zyl) het aan die dames vertel hoe me. Ackerman, stigter van VLVK, op soek was na ‘n embleem vir die eerste kongres wat in Mosselbaai sou plaasvind. Op pad na die kongres het die Ackermans by vriende oornag en terwyl me. Ackerman met die gasvrou gesels, het haar oog op die swart potjie geval wat oor die vuur hang en prut. Sy het gevoel dat solank die potjie bly prut, is daar kos om die familie te voed. Die idee van VLVK was tog om dames op te voed en toe te rus om beter vir huis en haard te sorg. So het die swart potjie die VLVK embleem geword en Huis en Haard die leuse.

 

SANYO DIGITAL CAMERA

 

Me. Perrin het die dames daarna ingelig oor die oorsprong van boeremusiek. Die musiek is oorspronklik met konsertina, traporrel, viool en mondfluitjie gespeel. Dozi is tans die beskermheer van die Boeremusiekgilde. Laasgenoemde is in 1980 gestig. Musiek van Japie Loubser en die Teelepeltjies is gedurende die vergadering gespeel. Gedurende teetyd het twee lede se voete sommer self ‘n draai of twee gemaak. Ons sal maar nie vir die kerkraad vertel nie. Boeremusiek is juis vroeër jare as ‘n euwel beskou, omdat dans deur kerke as sonde gebrandmerk is.

 

Hierna het die pret ‘n hoogtepunt bereik met ‘n vinnige Boeresport item of twee. Aartappel lepel resies was eerste aan die beurt. Me. Joan Human en me. Anna Links het as wenners uit die stryd getree. Daarna is in twee spanne ingedeel vir bal-aangee. Die personeel van HFK het met ‘n kortkop gewen. Gemiddelde ouderdom was defnitief ‘n faktor met die item!

 

SANYO DIGITAL CAMERA

Net voor teetyd is kortliks gekyk na Bejaardesorg en die druk wat deesdae op instansies en personeel rus. Soos met alles speel finansies ‘n rol in die versorging van bejaardes. Verder het die klem oor die jare verskuif van versorging deur familie na versorging deur instansies. Die personeel van HFK is deur me. Perrin bedank vir die diens wat hulle lewer . Daarna is  saam tee en verversings geniet.