Sirkel:  Noord Karoo

Tak:  Britstown

Portefeulje:  Opvoeding En Kultuur

Beriggewer:  Michelle Jansen Van Rensburg

Datum:  11 Maart 2015

 

 

Vandag het ‘n baie brawe, pragtige jong vroutjie uit die distrik die dames meer kom vertel van hierdie siektetoestand waaraan sy self ly en wat gekenmerk word deur skommelinge in die gemoedstoestand, vanaf uiterste depressie tot uiterste manie.

 

 

Persone wat aan bipolêre gemoedsteuring ly, ondervind gemoedstemmings wat wissel van maniese opwinding tot ernstige depressie, met periodes van normaliteit tussenin. Alle mense ervaar skommelings van hul gemoedstoestand.  Die verskil is egter dat mense met bipolêre gemoedsteuring soms kontak met die werklikheid verloor. ‘n Skandering van die brein toon ook ‘n groot verskil tussen die “normale” mens se brein en die bipolêre brein – ‘n bipolêre brein toon onderontwikkeling in die brein areas wat insig, oordeel en besluitneming beheer.

 

 

‘n Familiegeskiedenis van geestesteurings en genetiese samestelling blyk ‘n belangrike rol te speel in die aanwesigheid van hierdie steuring en plaas mense in ‘n baie groter risikogroep om wel die siekte te kry.

 

 

Trauma, ‘n toename in spanning  en ‘n onvermoë om dit te hanteer tree dikwels as snellermeganisme op vir die aanvang van die toestand.

 

 

Die spreker vertel hoe haar lewensverhaal tot nou toe verloop het – dat sy wel ‘n mate van gemoedsversteurings begin beleef het na skool, maar eers sowat twee jaar na die geboorte van haar eerste kind ‘n intense donker tyd beleef het en haar man besef het iets is groot fout. In Bloemfontein is sy gehospitaliseer en verkeerd diagnoseer met erge depressie – iets wat maklik gebeur. Na 2 weke by die huis het sy weer haar lus vir die lewe verloor.  Een oomblik was sy op ‘n maniese fase – slaap niks en het energie vir 10 mense!  Sy begin met projekte maar maak niks klaar nie en dan was sy weer op ‘n erge depressiewe fase. Haar man neem haar toe weer vir ‘n tweede opinie en na meer intensiewe ondersoeke, insluitend breinskanderings, is sy gediagnoseer met bipolêre gemoedsversteuring.  Hierdie keer verduidelik die psigiater vir hulle presies wat dit is en hoe dit werk en sy begin met bipolêre medikasie.  Sy is ook gediagnoseer met angsversteuring.

 

 

In 2014 het sy weer ‘n insinking beleef en is opgeneem in die Optima Hospitaal.  Alhoewel dit ‘n  baie traumatiese ervaring was weens die kilheid van die atmosfeer en die streng, streng roetines wat gevolg moes word en die feit dat jou elke beweging deur kameras gemonitor is, het sy geleer om te “cope” en “deal” met haar siekte.  Daar het sy intensief saam met ‘n span deskundiges gewerk wat psigiaters, arbeidsterapeute, sielkundiges en dokters ingesluit het. Hulle het ook obsessiewe kompulsiewe versteuring by haar opgetel en sy kon “coping skills” daarvoor aanleer. Haar medikasie is “pasgemaak” vir haar sodat sy normaal kan funksioneer.

 

 

Sy het geleer om  ontspannings- en asemhalingsoefeninge te doen, ‘n 15 minute-oefenprogram daagliks uit te werk, haar persoonlikheid te ontleed en vrede daarmee te maak, geleer om grense om haar te stel om haarself te beskerm, om waarskuwings tekens vroegtydig raak te sien, om elke dag se pynlike herinnerings en gebeuternisse te verwerk en te laat gaan en aan te beweeg.  Sy mag sekere goed glad nie inneem nie, bv koffie, alle soorte tee is verbode, geen gaskoeldranke, geen suiker, geen alkohol, geen riller-, spannings- of aksieflieks kyk of boeke lees nie omdat haar brein nie daarna kan afskakel nie.  Sy mag ook nie stort nie omdat dit haar  siektetoestand kan prikkel en sy mag geen oefeninge na 2 in die middae doen nie, sodat sy rustig kan  raak.

 

 

Sy volg 7 dae van die week ‘n streng roetine wat haar help om met die siekte- toestand saam te leef.  Daar is geen genesing en/of oplossing nie, net medikasie wat die toestand kan beheer.  Die medikasie help 50% om o.a. haar breingolwe meer egalig te hou, die ander 50% moet sy haarself help met oefeninge, asemhaling, ens. Hiermee saam is die ondersteuning wat sy van haar gesin ontvang onontbeerlik.

 

 

Haar openlike en diep gesprek het  almal diep geraak,  meer bewus gemaak van die siektetoestand en meer deernis en begrip gegee vir lyers aan die siektetoestand en hul gesinne wat hul moet ondersteun.