Sirkel:  Middelland

Tak:  Aberdeen

Portefeulje:  Sirkelkonferensie

Beriggewer:  Lea van der Vyver

Datum:   11-12 Maart 2015

 

Op 11 en 12 Maart 2015 is VLVK (Vroue-Landbouvereniging van Kaapland) Sirkel Middelland se 81ste Konferensie by die Royal Hotel op Steytlerville gehou.

 

aberdeen5 (Custom) (2)

Agter vlnr: Jadré Lategan, Suzann Lategan, Lea van der Vyver, Annalie Lategan.  Voor vlnr: Stephanie van Zyl, Heidi Lombard.

 

Aberdeen VLV is goed verteenwoordig deur 2 afgevaardigdes (Lea van der Vyver, voorsitter, en Jadré Lategan) en 4 dagbesoekers (Heidi Lombard, Suzann Lategan, Annalie Lategan en Stephanie van Zyl).  Hulle is verantwoordelik vir die aanbied van die middagtee, wat deur die dagbesoekers hanteer word.  Die orige eetgoed is aan Aalwynhof Ouetehuis op Aberdeen gegee.

 

Die openingsrede word gedoen deur Dr Koos van der Merwe – leraar, digter, skrywer, liedjieskrywer en sanger (oa Houtkruis en Leonard Cohen in Afrikaans).  Sy praatjie fokus rondom die een visie wat ons moet hê om te verseker dat ons innerlike vrede het en al die ander dinge in die lewe sin maak en in balans is.  Die visie is ‘n diep, innige verhouding met God en Sy strome van Lewende Water wat deur en uit ons vloei.  In sy praatjie gebruik hy ook gedigte, storievertelling en sang om ‘n kragtige boodskap oor te dra.

 

Die presidentsrede deur Lynette Martin, Sirkelpresident, fokus ook op visie en ‘n beroep word gedoen dat die takke met visie gelei word, daar na jonger lede geluister moet word en dat nuwe idees verwelkom moet word.  Dit sluit aan by Aberdeen se fokus vir die jaar.  Kompetisie-uitslae word bekend gemaak en pryse uitgedeel.  Aberdeen neem aan verskeie items deel, maar wen ongelukkig nie pryse nie.  Jadré Lategan wen wel ‘n gelukkige trekking – ‘n R1000 geskenkbewys van Silhouette Boetiek op Hartenbos!

 

Oor die 2 dae word ‘n aanbieding deur elk van die 6 portefeuljes gedoen, nl. Landbou en Tuinbou, Opvoeding en Kultuur, Leefstyl, Openbare Sake, Kuns en Handvlyt en Gesondheid.  Onder andere ‘n aanbieding oor grondhervorming in die Oos-Kaap deur Mnr Martin Dörfling, lid van Steylerville Landbouvereniging, en Agri Oos-Kaap; die rol van die vrou in die familiebesigheid en –boerdery deur Mnr. Riaan Bezuidenhout van Old Mutual en verskillende oogsiektes wat sig aantas deur Me. Marike Taljaard van Graaff-Reinet.

 

aberdeen4 (Custom)