Sirkel:  Paarl

Tak:  Slot van die Paarl

Portefeulje:  Tuisteskepping

Beriggewer:  Annalise Loubser

Datum:  3 Maart 2015

 

 

‘n Spysenier, Retha Rix, is die entoesiastiese spreker van die dag. Sy sê dat sy niks van kosmaak af weet nie, sy maak dit net! Sy het op skool ‘n VLV-boekprys verwerf!!  Met al haar wedervaringe hou sy nog steeds daarvan om mense te bemagtig.

 

Haar vertellinge dek van hoe kos verander het (voorheen is pasta met witsous geëet en nou word vars kruie in die pasta geroer) tot by bruide se grille en giere (hulle kom met foto’s by haar aan van goed wat nie altyd so maklik is om vir 150 gaste voor te berei nie).

 

Die immergewilde Kook en Geniet word uitgesonder. Dit pronk al sedert 1951 op menige huisvrou se rak. Moet ook nie die resepteboekies, wat mens op die platteland raakloop wat deur ‘n skool of kerk verkoop word vir fondse, vergeet nie! Dit is van onskatbare waarde, want dit is almal getoetste resepte.

 

Met ‘n pan en ‘n Cadac gasstofie kan jy maklik kosmaak en sommer ‘n inkomste ook verdien. So het die VLV en die ACVV met koeksisterbak ‘n klomp geld ingesamel om te help met die bou van die Huishoudkundegebou op Stellenbosch.

 

Die verskil tussen ‘seasoning’ (sout en peper om die smaak beter te maak/’to enhance the taste’) en ‘flavouring’ (met kruie en speserye die smaak verbeter) word verduidelik.

 

Sy gesels onderhoudend oor die geskiedenis van bobotie (‘n Kaaps-Maleise dis van gemaalde vleis met ‘n eierbasislaag bo-op), waterblommetjiebredie (‘n Bredie van waterblommetjies wat in die damme van die Wes-Kaap gekry word. Die Khoi mense het aan die vroeë setlaars geleer om waterblommetjies vir kos en medisyne te gebruik), melktert (‘n Suid-Afrikaanse poedinggereg bestaande uit ‘n soetdeegkors gevul met romeringe vulsel van melk, meel, suiker en eiers – oorsprong van Portugal af.) en koeksisters.

 

Sy moedig ons aan om ‘n resep te neem, hier en daar iets te verander en te oefen  en so jou eie smaak ontwikkel.

 

Saam met al hierdie interessanthede hoor ons by ‘n lid hoe om kreatief te raak met ‘iets nuuts uit de oude doos’. Hekelwerk, party so ver as 1913 tydens die groot griep gemaak, het sy versorg en hergebruik. ‘n Ou gehekelde tafeldoek versier nou die voetenent van haar bed.

 

Weereens het ons iets geleer by die VLV wat ons nie voorheen geken of aan gedink het nie EN ons is verras met die Sirkelpresident se besoek aan ons tak.

 

slot van die Paarl (Custom) (2)

Susie Spies (gasvrou), Nettie Marais, Retha Rix (gasspreker), Marinda Rall (sirkelpresident), Ella Rossouw (50-jaar knopie) en Frouwien du Toit (40-jaar knopie en takvoorsitter)